Local newsNews

Voormalige hoofmeisies kom van heinde en verre om skoolhoof te groet

‘n Geliefde skoolhoof se afskeid is deur die hoofmeisies bygewoon wat in haar 17 jaar van diens aan die skool leiers was.

Na 17 merkwaardige jare as die skoolhoof van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria, is daar op 19 September op ’n ongewone manier afskeid geneem van die gewilde en geliefde Marna Jordaan.

Jordaan is vroegoggend met ’n helikopter gevlieg oor die hokkieveld, waar die leerders die kenmerkende blou kleur van die skool op die veld uitgespel het.

Amore Knoetze, Marna Jordaan en Hannah Labuschagne

Daarna is sy deur die helikopter op die naburige rugbyveld van die Afrikaans Hoër Seunskool afgelaai waar sy met blomme deur die skoolleiers vewelkom is en toe met ’n gholfkarretjie na die balkon van die klubhuis vervoer is.

Hier het die leerders, personeel, asook die hoofmeisies van die jaar 2008 tot verlede jaar, haar ingewag.
Die hoofmeisies het van heinde en verre gekom om die dag vir Jordaan spesiaal te maak.

Die dag is ook gebruik om haar 65ste verjaarsdag op 23 September luisterryk met blomme, ballonne en kolwyntjies asook ’n piekniek vir die leerders te vier.

Tydens ’n herdenkingseremonie het elkeen van die gewese hoofmeisies aan Jordaan ’n pienk roos oorhandig. Sy is ook toegesing deur ’n leerder, Kate Dean.

In verskeie huldeblyke is daar gewys op die prestasies van Jordaan tydens haar 17 jaar as skoolhoof. Onder meer oor hoe sy die skool op ’n hervormingspad op talle gebiede geplaas en gelei het, hoop en toewyding onder die skool se personeel geskep het en diens aan ander en leierskap as waardes gestel het.

’n Skildery deur ’n oudleerder van die skool, Erin-Mae Wallace, wat die noue band uitbeeld wat daar tussen Jordaan en die leerders bestaan, is aan haar oorhandig.

Die belangrike kleur in die skool se geskiedenis, blou, Marna Jordaan se aantal jare verbonde aan die skool en haar ouderdom is deur die leerders op die hokkieveld uitgespel. Foto: Hommeltuigfoto deur die skool se inlitingstegnologie-span
Hoofmeisies van vorige jare: Elzanne Kelbrick, Helene van der Merwe, Carmen de Beer, Louise du Preez en Liezel Brink

Staaltjies en anekdotes oor Jordaan se 17 jaar is vertel en aangehaal.

Die oudleerders het veral onthou hoe Jordaan op ’n slag met klere en al saam met hulle in die swembad gespring het, asook hoe sy op een van haar verjaarsdae soos “’n koningin in ’n rooi lorrie vervoer is en op ’n blommetroon moes sit”.

Dis egter veral Jordaan se leuse, dat mens met harde werk en toewyding enigiets kan vermag, wat telkens aangehaal is.

Jordaan het in haar bedankings gesê dat sy selde sprakeloos is, maar op die luisterryke dag nie veel gesê kon kry nie.

Sy het op hoogtepunte teruggekyk, maar veral stilgestaan by die pandemie wat in 2020 aanpassings van almal geverg het en die wyse waarop sy leerders en personeel moes lei om bykans oornag in ’n aanlyn omgewing skool te gee.

“Toe ek wakker word vanoggend het dit by my opgekom hoe ongelooflik dankbaar ek voel teenoor my Skepper vir die afgelope 17 jaar, asook teenoor die personeel, ouers en leerlinge vir die tyd wat ek hier kon diens doen. Aan die begin van die jaar het ek besluit om hierdie jaar op elke moontlike manier te vier en dis wat ek gedoen het en vandag weer doen. Die voorreg om te lewe, is werd om gevier te word.”

Kliek hier om meer van Marna Jordaan se verjaarsdagrit in ’n helikopter te sien.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button