CrimeLocal newsNews

NUUSFLITS: Jan Blohm se eks aangehou tydens gewapende roof

"Ek wil nie geskiet word nie. Ek het 'n kind," so het Zinta Kymdell gebid nadat ses gewapende rowers Sondagmiddag op 'n spa in die ooste van Pretoria toegeslaan het.

Zinta Kymdell, die gewese vrou van die rocker Jan Blohm, se pamperlangsessie op Moedersdag het in ‘n nagmerrie ontaard toe ses gewapende rowers spa-gaste aangehou het.

Terwyl een van die mans ‘n vuurwapen op Kymdell gerig het, het sy net gebid: “Ek het ‘n kind. Ek het ‘n kind. Asseblief, as julle skiet, skiet net mis.”

Kymdell se kêrel van die afgelope paar maande, Rex van Deventer, wou haar Sondag bederf en het vir hulle ‘n pamperlangsessie by die Soulstice Day Spa by in die Lombardy Boutique-hotel in die ooste van Pretoria, gereël.

Kymdell was, net na eenuur daardie middag, in een van die aantrekkamers om ‘n japon aan te trek voordat sy vir ‘n massering sou gaan toe ‘n man – vermoedelik ‘n Nigeriër – ‘n vuurwapen op haar gerig het.

“Dit is ‘n roof,” het hy in Engels gesê en haar gedwing om saam met hom na die ontvangslokaal te loop.

“Daar was toe nog so vyf mans. Dit was chaos. Hulle het ons almal – ek weet nie presies hoeveel vroue daar was nie – in die kantoor ingedwing. Pary van die tannies was baie oud. Hulle het ons toe gedwing om op die vloer te lê.”

Volgens Kymdell het die rowers vir twee van die spa se werkgewers gevra vir die kluis se sleutels.

“Ek het nie die sleutels nie,” het een van die meisies gesê. Hy het haar toe hard deur die gesig geklap. Die ander meisie is ook geklap nadat sy nie die sleutels vir hom kon gee nie.

Kymdell sê sy het net afgekyk toe die mans die meisies slaan.

“Dit was verskriklik. Hulle het toe al die skoonheidsprodukte waarop hulle hul hande kon lê in sakke gegooi en ook die dames van hulle juweliersware, beursies en selfone beroof. Ons het net daar gelê. Iemand het histeries buite gegil, maar ons het net bly lê.”

Party vroue het saggies gehuil. Ander het net gebid.

Op ‘n stadium, het die mans glo gesê al die vroue moet hulle hande opsteek. “Ek weet nie hoekom het hulle dit gevra nie. Die spa-gaste was ‘n gemengde groep vroue en mans. Daar was wit en swart.”

Toe rig die rowers weer ‘n vuurwapen op hulle. “Ek het net aan my kind gedink. Ek wou net bly leef. Vir haar.”

Iemand het toe die alarm geaktiveer en dit het begin loei. “Ek vermoed die rowers het vir die alarm geskrik en laat spaander.”

Kymdell sê sy het gelukkig haar beursie en selfoon tuis gelos. “Dit was veronderstel om een van die lekkerste dae van my lewe te wees – toe het hulle (die rowers) dit een van die slegste dae van my lewe gemaak.”

Die vroue het, nadat die rowers gevlug het, die een na die ander vertrek.

“Ons was so teen halfdrie by die huis. Die polisie het ook nog nie kontak gemaak of verklarings kom afneem nie,” sê Kymdell.

“Ek vermoed dat die gewapende roof van binne gereël is. Die rowers het presies geweet wat hulle doen.”

Intussen het Van Deventer Maandagoggend op sy Facebook-blad geskryf: “Geen woorde van motivering vanoggend, net dankbaarheid om nog te kan lewe, dankbaarheid om nog met familie en my kind te kan gesels, dankbaarheid om vriende en kollegas nog in die oë te kan kyk en dankbaarheid om ‘n wonderlike vrou vanoggend te kan soen en te kan vashou. Dus: waardeer vanoggend die lewe. Waardeer alles en hou op met kla en worry. Ons het net een lewe, miskien twee. Wees onvoorwaardelik lief, waardeer alles, moenie selfsugtig wees nie, wees tevrede met wat jy het en leef elke sekonde voluit. Ek weet hoe dit voel om dalk nie meer daardie oomblikke te hê nie.”

Die Boschkop-polisie het die misdaad bevestig, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die rowers het gevlug met juweliersware, kontant, selfone en skoonheidsprodukte.

Die bestuurder van die spa wou nie kommentaar lewer nie. “Ek is nie by regte om nou enige iets te sê nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button