Local newsNews

Inwoners kla oor leerders se gedrag by en rondom skoolhek

Daar wag dalk verligting op die inwoners van strate rondom 'n Daspoort-skool nadat hulle tot drastiese maatreëls moes oorgaan om hulself en hul eiendom te beskerm.

Inwoners van die strate rondom die Hoërskool Hercules in Daspoort is ontsteld oor die wanorde wat die hergebruik van die skool se agterste uitgang tot gevolg het.

Met die hergebruik van die hek, het leerders buite die hek en in die straat op vervoer kom wag.

Hoërskool Hercules is op die hoek van Jennings- en Ribbensstraat geleë.

Klagtes strek van ’n vloekery as leerders deur die inwoners aangespreek word, die beweerde rook van dagga op sypaadjies, die beweerde drink van alkohol buite die skoolgrond op inwoners se grasperke sowel as rommelstrooiing.

“Die leerders skree ons elke oggend moedswillig wakker. Dis voor skool wat hulle so rook en drink. Die harde doef-doef musiek van die minibus-taxi’s maak mens mal,” vertel ’n inwoner wat in die omgewing woon.

Inwoners het verkies om anoniem te bly.

Sy het ten einde die probleem op te los, sproeiers in haar tuin geïnstalleer. Wanneer die leerders in haar tuin inbeweeg, skakel sy die sproeiers as afskrikmiddel aan. Volgens haar is dit al wat die diefstal van haar blomme en die uittrap van haar grasperk voorkom.

“Elke middag moet ons aan ons kant van die skool skoonmaak agter die leerders aan wat hier vir taxi’s kom wag,” sê nog ’n inwoner.

Volgens ’n inwoner wat reeds 20 jaar in die omgewing van die skool bly, het hulle al telkens die skool genader om hulle te help om die probleem aan te spreek.

“Hulle wil nie eers meer met my praat nie. Ons het tot die skool gevra om asseblief vir ons asblikke te gee sodat ons self agter die kinders kan skoonmaak, maar hulle ignoreer ons. Ons het swartsakke gekoop en vir die skool gaan gee en vra hulle moet die leerders vra om dit te gebruik. Ons was weer eens voor dooiemansdeur. Die leerders gooi net die ongebruikte sakke terug op ons erwe,” vertel nog ’n inwoner.

Departement van Onderwys woordvoerder Steve Mabona

Die Gautengse Departement van Onderwys sê hulle is bewus van die klagtes.

Woordvoerder Steve Mabona het aan Rekord bevestig dat die skool weer, weens veiligheidskwessies, die eens geslote hek moes begin gebruik.

“Die ingang by Ribbensstraat het ’n veiligheidsprobleem vir ons leerders geword aangesien daar geen verkeersbeperkingsmaatreëls was nie,” sê Mabona.

Hy bevestig ’n plan is nou in plek om die klagtes op te los.

Skoliervervoerbusse is deur die departement aangeraai om in die toekoms leerders binne die skoolterrein af te laai om sodoende hulle rondswerwery en gedrentel in die strate rondom die skool te voorkom.

Volgens Mabona sal slegs ouers en privaat vervoerverskaffers toegelaat word om die hek te gebruik.

“Ons sal ook die metro versoek om smouse van die skoolhekke te verwyder. Dit sal rommelstrooiing in en om die skool met onmiddellike effek verminder,” verduidelik Mabona.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button