Local newsNews

Loslitdag met talentkompetisie en plaasdiere gevier

Leerders aan ’n skool in Pretoria vir kinders met gestremdhede het Loslitdag op unieke wyse gevier: hulle het hul talente ten toon gestel.

Die Pretoria School For Cerebral Palsied Learners het op 6 September Loslitdag gevier met ’n talentkompetisie: Pretoria School’s Got Talent.

En dit was nie al nie: leerders kon by speelhokkies met plaasdiere deur John Evans van Educational Animal Encounters meer oor plaasdiere leer.

Die nasionale adjunk-minister van Vroue-aangeleenthede, Jeug en Mense met Gestremdheid, Mmapaseka Steve Letsike het kom besoek aflê.

Die skool vier hiermee ook die 30-jarige viering van Loslitdag as ’n fondsinsameling- en voorspraak-aksie vir persone met gestremdhede saam met die Nasionale Raad vir en van Persone met Gestremdheid.

Loslitdag word jaarliks deur instellings gedenk waarby mense met gestremdheid betrokke is.

Die publiek se bydrae van R20 vir ’n Loslitdagplakker gee hulle die reg om hul individuele interpretasie van die jaarlikse tema deur middel van hul uitrustings uit te druk. Hulle toon sodoende hul steun vir die volle insluiting van persone met gestremdhede in die samelewing.

Die ontstaan van Loslitdag dateer terug na die middel-negentigerjare toe die eerste geleentheid deur die raad gereël is.

Sedertdien het die geleentheid gegroei in beide deelname en impak, en miljoene rande is ingesamel vir verskeie organisasies en projekte regoor die land.

In 2022 het Loslitdag gehelp om meer as R411-miljoen vir persone met gestremdhede in te samel.

Letsike het tydens haar besoek die leerders toegespreek en die staatspresident, Cyril Ramaphosa, se groete en beste wense oorgedra. Sy het leerders aangemoedig om hard te leer met drome en ideale in hul harte.

“En julle moet hard werk aan julle wiskunde-punte want wiskunde maak deure oop vir die toekoms,” glo Letsike. “Ek gaan gou weer kom kuier en dan gaan ons oor wiskunde gesels.”

Skoolhoof Rianza Anderson sê die tema van vanjaar se Loslitdag is: “Ek sien jou”.

“Die boodskap is gekies sodat ons leerders en individue met gestremdheid moet voel hulle word geag deur die samelewing en nie voel hulle moet wegkruip nie,” verduidelik Anderson.

Die skool het tans 386 leerders waarvan 86 by hul koshuis op die skoolterrein in Dr. Savagestraat in Pretoria-sentraal langs die Tshwane-distrikshospitaal inwoon.

Anderson is trots op die skool se groep rolstoeldansers wat tydens ’n nasionale danskompetisie in Pretoria teen die einde van Augustus nasionale kleure verwerf het. Die groep word afgerig deur Karen Norman, Juanita Beukman, Lene Needham en Priscilla Mostert met bystandhulp van Abel Motshetja, Jane Kau en Oma Maluleke.

Die dag is ook bygewoon deur die Leatile La Bana Stigting se verteenwoordigers, Shiman Makopo en Pebetse Kekana, wie se seun Leatile self aan die skool verbonde is.

KYK:

Dié stigting is ’n organisasie sonder winsbejag wat hoofsaaklik op minderbevoorregte neurologies-gestremde kinders fokus en hulle regoor Suid-Afrika sosiaal, ekonomies, sielkundig en medies ondersteun.

Die leerders is vermaak deur die saksofoonspeler, Adonai Maagi, wat met die organisasie van die talentkompetisie hand bygesit het.

Die leerders van die Interspecial Phase het ’n vrolike vertolking van “If you are happy and you know it, clap your hands” vir ander leerders aangebied.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button