EntertainmentLocal newsNews

Bekende stem en gesig sluit weer aan by ontbytprogram

Vir 'n gesoute aanbieder wag daar 'n nuwe uitdaging - om ook as anker- en mede-aanbieder van 'n gewilde TV-program kykers te vermaak en in te lig.

Die veelsydige en spontane TV-aanbieder, Su-an Müller-Marais skroom nie vir emosies of om haarself te wees nie, en glo dis moontlik om hoop te saai ten spyte van die erns wat nuus soms meebring.

Hierdie uitgangspunt het dié trotse oud-Puk en oudleerling van Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom geslyp in haar jare as omroeper en aanbieder van die bekroonde aktuele program, Kom ons praat daaroor, wat Woensdae tegelyk op radio en TV (kykNET) uitgesaai word.

Sy het kommunikasiekunde studeer en haar honneursgraad in Afrikaans en Nederlands met Filmkunde behaal.

Sy het al drie keer met die ATKV-mediaveertjie vir die beste radio-omroeper by ’n gemeenskapsradiostasie weggestap vir haar laatoggendprogram genaamd Su-an en so aan wat sy vir sewe jaar elke weeksdag op GROOTfm 90.5 aangebied het.

Sy het kykers sedert 2020 ook gereeld bederf met haar kookvernuf en liefde vir kosmaak, as deel van Die GROOT Ontbyt se kombuis-insetsel.

Maar as mede-aanbieder het sy nou meer om op te fokus as die kospotte in die ateljee.

Buiten kontinuïteitsaankondiging en onderhoudvoering, lees sy ook gereeld die nuus en moet soms koerantgesprekke lei.

“Mens dink nie altyd so daaraan nie, maar nuus is emosioneel. Die uitdaging is om nuus in konteks van hoop, geloof en liefde te sien. Dan verander inligting in positiewe denke en dade,” vertel die ma van twee kleuters, Jacobus (5) en Jana-Ingrid (2).

Dit is juis met hierdie blik op nuus wat die leergierige en nuuskierige oud-drama-onderwyser van Die Hoërskool Menlopark sedert laat-Augustus kykers van die TV-program, Die GROOT Ontbyt, op kykNET as mede-aanbieder ingelig hou.

Die program is tans die langsdurigste regstreekse program op kykNET.

Sy is ook bekend vir haar rolle in verskeie radiodramas en het al in 7de Laan en Binnelanders gespeel.

Die sprankelende Müller-Marais sê sy is verknog aan haar gesin asook haar groter familie wat nou hand moet bysit met die versorging van die kleingoed. Sy is getroud met Gunther Marais, ’n kwantitatiewe finansiële analis.

“Of só iets – hy’s baie slim,” skerts sy.

Ná die geboorte van Jacobus, het sy vir eers die mikrofoon vir ’n doekesak verruil, en so voortgedoen nadat Jana-Ingrid ook die lewenslig gesien het.

“Ma-wees is die moeilikste werk wat ek nog ooit gedoen het, maar dit het my gedwing om vrede met myself te maak.”

Sy is bekend vir haar nugtere benadering tot die lewe en ook ma-wees.

Sy glo aan eerlikheid op die lug en op die kassie.

“Ek kan niks meer as myself gee nie, maar gaan ook niks minder as my beste gee nie.”

Sy glo ’n opregte konneksie met haar mede-aanbieders én kykers is belangrik, maar hou ook daarvan om luisteraars en kykers uit te daag.

Su-An Müller-Marais Foto: Elize Parker

Sy glo daar is onderwerpe waaroor mense glad te min praat.

“Baie hiervan is juis emosionele onderwerpe. Sulke opgekropte gedagtes in jou hart keer dat jy vry kan wees. Mense moet meer daaroor gesels,” maan sy.

Müller-Marais maak graag voorspraak vir vergifnis tussen mense.

“Al voel mens nie so nie, moet jy vergewe óf jy sal nooit ware vreugde ken nie,” sê sy.

Sy erken sy is ’n deernisvolle mens en weet nie altyd of dit ’n kruis of ’n gawe is nie.

“Ek is baie sensitief vir ander se behoeftes. Ek probeer altyd albei kante van ’n saak insien. Selfs met misdadigers sal ek soms wonder wat in hul agtergrond het hulle na hul misdade gedryf. En dan is daar ook my liefde vir die afvlerkmense wat swaarkry ken,” vertel sy.

Disrespek vir andere pla haar. “Ek glo aan geselsies aanknoop met almal – van kassiere tot karwagte. Elke liewe mens het ’n plek op aarde. Deur minder maklik aanstoot te neem kan ons weer met respek vir mekaar begin lewe.”

Vir eers is dit skouer aan die wiel vir Müller-Marais by Die GROOT Ontbyt, maar sy vertel die maltrap in haar hou nogals van ’n wegbreekkans of twee.

“Ek leef vir vakansies en vier graag fees. Terwyl ek nog met vakansie is, beplan ek al die volgende een!”

Su-An Müller-Marais Foto: Elize Parker

Kyk hoe Müller-Marais ’n chilli-sop maak:

LEES OOK: Snotkop spoor jong Pretoria-seun op na Krone plakkaat

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button