Local newsNews

Kinderhuis-alumni deel hul suksesverhale

Voormalige inwoners van twee kinderhuise het tydens ‘n fondsinsamelingsfunksie vertel hoeveel die liefde, sorg en ondersteuning ook nadat hulle daar was, hul lewens en menswees beïnvloed.

“Die grootmenswêreld is nou werklik nie grappies nie, maar gelukkig het my tyd by die kinderhuis my daarop voorberei.”

Só sê ’n voormalige inwoner van een van die huise onder die vleuels van die Louis Botha- en Jakaranda-kinderhuise op 24 Augustus tydens ’n fondsinsamelingsfunksie.

Kayly van Wyk het as een van vier alumni van die kinderhuise aan ’n waarderende gehoor verduidelik watter voorsprong haar ses jaar van kinderhuis-inwoning haar in die lewe gegee het.

Van Wyk het in 2021 matriek geskryf en het sedert 13-jarige ouderdom tot en met matriek by die kinderhuis ingewoon.

“Ek onthou toe ek en my boetie Brent die eerste keer by die hoofhek ingekom het, en ek die mooi groot bome en groen gras gesien het. Vir my het dit soos ’n sprokiesland gevoel,” sê Van Wyk.

Na haar onstabiele kindertyd, was dit vir Van Wyk vreemd genoeg ’n aanpassing om aan die kinderhuis se standvastigheid gewoond te raak.

“Ek besef eers nou watter groot impak die kinderhuis op my lewe gehad het. Toe ek daar was, het ek nie nodig gehad om bekommerd te wees oor die dag van môre nie en kon ek net myself wees.”

Indien sy die kans gegun word om iets van haar lewe te verander, sal Van Wyk niks wil wysig nie.

Sy glo juis hierdie omstandighede het haar gevorm tot die mens wat sy vandag is.

Sy is veral dankbaar dat sy kinderhuiskampe soos skubaduik-ekskursies in haar vormingsjare kon bywoon.

“Die kinderhuis het soveel geleenthede en deure vir my oopgemaak. Ek glo die Here het vir my uitgekyk toe ek daar ’n plek gekry het. Ek kon nie vir ’n beter huisma gevra het nie. Sy het my laat besef wat moederlike liefde is.”

Sy is ook dankbaar sy is vaardighede aangeleer soos om ’n motor te kan bestuur. Vandag is dit een van haar groot drome om haar eie motor te kan besit.

“Ek het die voorreg om te kán droom,” sê Van Wyk.

’n Kinderhuis-alumnus van Mamelodi en nou pa van drie, Lucky Mpuru, deel hierdie droom om sy eie motor te kan besit.

“Die lewe daarbuite is taai, maar ek wil my kinders ’n ander pad wys as die een wat ek vroeg in my lewe moes loop,” sê Mpuru.

Hy het nooit soos ’n slagoffer in die kinderhuis gevoel nie.

“Ek het dan altyd lekkers gekry!” spot Mpuru wat deesdae verbonde is aan die Finders’ Keepers, die snuffelwinkel wat op die terrein van Louis Botha-kinderhuis geleë is.

Kayly van Wyk, Lucky Mpuru en Charlene Grobler

Hy is ook verantwoordelik om die inwoners van hierdie kinderhuis te leer fietsry.

Mpuru het verduidelik dat dit juis veral die deelname aan sport tydens sy kinderhuisjare was, wat hom geleer het om die lewe met ’n oop hart binne te nooi en sy eie gesin op hul voete te kry.

“Elke kind het maar ’n baie besige en onnutsige kind in hom. Maar ek wil vir julle vertel, sport gaan jou regmaak,” sê hy.

’n Uitstalling van die werk wat maatskaplike werkers by die kinderhuise doen, is by die funksie gehou.

Die uitvoerende bestuurder van die twee kinderhuise, Charlene Grobler, het verduidelik hoe bevoorreg sy is om die impak van die kinderhuise en personeel op meer as 300 lewens oor bykans twee dekades te kon waarneem.

“Hoe wonderlik sal dit nie wees as ons eerder ons sukses kan meet in die wêreld van vandag aan hoe veilig en geliefd ons iemand anders kan laat voel as aan aardse goed nie?”

Sy het waardering teenoor haar personeel by die kinderhuise uitgespreek vir hul deursettingsvermoë om ten spyte van ’n gebrek aan voldoende ondersteuning van die owerhede steeds die inwoners geliefd te laat voel.

Slegs 43% van die kinderhuise se uitgawes word deur die owerhede gesteun.

Nel Breytenbach, Haneke la Grange en Marlene de Beer van Midstream

Maar Grobler het haar nog nooit hierdeur laat ontmoedig nie.

“Elkeen in die lewe het sy eie moeilike pakkie gekry om mee saam te leef. Dit hang van jouself af of jy hom wil saamdra en of jy hom wil neersit, en daarsonder wil voortgaan,” verduidelik Grobler.

Sy beaam Van Wyk en Mpuru se denke oor die skubaduik- en sportkampe. “Ek wou dit graag as ’n kind doen, maar kon nie en nou as gevolg van borge kan die kinders ook skouers skuur met skubaduikers en meer hiervan leer. My droom het ook waar geword deur my werk by die kinderhuise.”

Voor: Hanlie Cronje en Isabel du Plooy Agter: Nannie Visser, Mada Cronje en Christa van Rensburg

Sy het die gehoor gevra om hande met die kinderhuise te neem en bemagtigende ondersteuners te word.

“Ons het soos die kinderhuiskinders almal net een mens nodig om in ons te glo en dan kan ons dit in die lewe maak,” glo Grobler.

Die beskermheer van die kinderhuise, sanger en TV-aanbieder, Leon Gropp en sanger Tian Benade, het musiek tydens die funksie verskaf. Die kinderhuise se koor, die Inzwamu-koor, het die gehoor ook onder luide toejuiging toegesing.

– Kliek hier om na Lucky Mpuru te luister:

@rekordpretoria

’n Kinderhuis-alumnus van Mamelodi en nou pa van drie, Lucky Mpuru, deel hierdie droom om sy eie motor te kan besit. “Die lewe daarbuite is taai, maar ek wil my kinders ’n ander pad wys as die een wat ek vroeg in my lewe moes loop,” sê Mpuru.

♬ original sound – rekordpretoria – rekordpretoria

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Check Also
Close
Back to top button