Local newsNews

‘Portable’ steeds op aandag vir makkers se vermaak

'n Geliefde akteur en musikant van die Weskus reis die land rond om veterane van die Grensoorlog te vermaak en te ondersteun namens 'n fonds wat na hul welstand omsien.

Vir die ambassadeur van die Veterane Hulpfonds, Philip Moolman, is dit ’n eer en voorreg om verwonde makkers in watter hoedanigheid ook al – fisies of emosioneel – te kan bystaan met ondersteuning, aandag en koestering.

Moolman is al vir ’n geruime tyd besig om die fonds se geleenthede vir weermagveterane, wat twee jaar se diensplig moes doen en tydens die Grensoorlog ontplooi was, musiek te maak en om na hul staaltjies en stories te luister.

“Ek doen dit uit ’n plek van dankbaarheid. Ek het redelik ongeskonde teruggekom van twee jaar se diensplig. Ek weet egter dit was nie almal beskore nie. Daar is talle veterane wat nie so gelukkig is nie. Hulle is sielkundig, emosioneel, fisies en ook op geldelike gebied op verskillende maniere geskaad.

“Ek het lig daarvan afgekom en dis hoekom ek voel ek moet hierdie manne ondersteun,” vertel die boorling van Parow. Hy het na 33 jaar in Gauteng teruggetrek na die Wes-Kaap en bedryf nou vanaf Yzerfontein aan die Weskus sy loopbaan.

Moolman het ook vir sy optredes tydens die geleenthede vir die veterane ’n spesiale liedjie geskryf, “Die Twee Jaar Song”.

Hierin skryf hy oor hoe hy en ander gedurende die vroeë tagtigs as seuns van 18 en 19 jaar met hul sakke (“myne was ’n Olympic”) deur die weermagtreine en Bedfords gehaal is om twee jaar van “klippe kou en kospakkies in die bos” in die gesig te staar.

“Ek het verkies om die liedjie lighartig te hou sodat ons nie by die tragiese eina-herinneringe vashaak nie,” dink hy nostalgies na.

Sy ambassadeurspligte draai steeds om sy sang, nes destyds toe hy deur die kampe waarin hy was, sy kitaar opgetel het om almal te vermaak en op te beur.

Toe het hy die bynaam van “Portable” gehad (soos ’n draagbare radio) want hy is van rondawel tot tent geroep vir diens as musikant.

“Toe die fonds my vra om van diens te wees, toe dink ek: ‘Kom ek slaan weer vir hul kitaar’. Ek wil dieselfde bydrae as destyds lewer toe ek saam met hulle voete gestamp het en bietjie afleiding deur opbouende musiek verskaf het. Dis lekker om nog steeds ’n bydrae te kan lewer,” sê Moolman.

Akteur en sanger Philip Moolan in sy infanteriedae in die vroeg-tagtigerjare.

Hy was as luitenant en infanterie-pelotonbevelvoerder lid van die Staatspresidentwag wat 50% operasioneel en 50% seremonieel was.

“Ons was baie spoggerig in die staatspresidentswag met sulke volstruisvere op ons kop,” lag hy.

Moolman het in Parow grootgeword – “ek is die oorspronklike arrow van Parow,” skerts hy. Hy het weermag toe gegaan in 1982-83 na skool.

Daarna het hy by die Universiteite van Stellenbosch en Kaapstad studeer.

Moolman is bekend vir sy TV-rolle as Andre Vorster in Egoli, Neil MacDonald in Sonkring en in die film Die Prince van Pretoria.

Moolman het tydens die geleentheid wat vir die sowat 80 Pretoria-veterane op 6 Augustus in Villieria aangebied is, musiek gemaak en hulle moed ingepraat.

“Sulke ondersteuning beteken dalk meer as wat ons kan weet. Net om na ’n ou makker te luister en hom te ondersteun met ’n staaltjie of ’n grappie, kan veel beteken,” meen hy.

“Ons het skaars begin skeer toe ons as laaities oorlog moes gaan maak het. Dit het sy tol geëis.”

Moolman verduidelik dat die fonds nie ’n militêre organisasie of vereniging is nie, maar wel ’n nie-winsgewende maatskappy wat geen ondersteuning van die staat ontvang nie en afhanklik van publieke donasies is.

“Die onbaatsugtige bydraes van vrywillige skenkers stel die fonds in staat om dienspligveterane geestelik en finansieel te kan ondersteun. Die gratis inkopie-geskenkbewyse wat tydens hierdie funksies aan pensioenarisse uitgedeel word, bring groot verligting aan hierdie manne, om hul ontoereikende pensioenfondse aan te vul.”

Hy meen die samesyn en kameraadskap wat by hierdie funksies ervaar word, nie maklik in geldwaarde gemeet kan word nie.

“Baie veterane oorleef in tragiese isolasie. Sommige ervaar nie slegs verwerping van familie en vriende nie, maar voel ook afgesny van interaksie met mede-veterane. Hierdie geleenthede gee hulle ’n kans om weer kontak te maak met manne wat ’n soortgelyke geskiedenis met hulself deel en hulle word bemoedig met ’n hernieude besef dat hulle nie alleen is nie, maar in ’n noue verbintenis met ander staan.”

Tydens hierdie besoek van die Kaap-gebaseerde fonds aan Gauteng is Benoni en Vereniging ook in dieselfde week as Waverley bedien.

Nagenoeg 400 veterane is tydens hierdie drie funksies bemoedig en bederf.

Moolman nooi lesers uit om veterane in hul nood by te staan: “Mense hoef slegs hul naam na 31429 te SMS om ’n skenker te kan word. Die klein, maandelikse bydraes van baie mense stel die fonds in staat om hierdie nasionale uitreike te kan voortsit.”

– Kliek hier om na Moolman se liedjie vir die veterane te luister en meer van die organisasie te wete te kom: 

Do you have more information about the story?

Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Back to top button