Local newsNews

Toerismevereniging fokus nou ook op veiligheid

Die Tshwane Toerismevereniging wil nou ook tegnologie inspan om toeriste en inwoners in die hoofstad te beveilig.

Die Tshwane Toerisme-vereniging spits hul nou toe om Pretoria as die veiligste hoofstad in die wêreld te bemark.

Ondervoorsitter Susan Marais sê dis die volgende stap in hul toerismebestemmingsveldtog.

Die eerste stap is reeds in ’n vorige veldtog in Januarie in werking gestel: Om Pretoria te bemark as die “wildste” hoofstad in die wêreld waar toeriste in en rondom die stad wildlewe kan sien en avontuurlike ervarings kan aanpak.

Marais verduidelik dat die vereniging steeds hul lede en besoekers aan Tshwane wil herinner dat dit inderdaad die “wildste hoofstad” in die wêreld is.

“Ons bied aan inwoners en besoekers diverse wildreservate, unieke restaurante, interessante erfenisbestemmings, gerieflike verblyf, en die belangrikste van alles, wonderlike mense om jou by al hierdie ervarings te verwelkom,” sê Marais.

Nico Rowan en Susan Marais, onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van die Tshwane Toerismevereniging

Sy benadruk dat die tweede stap in hul nuwe veldtog op die sukses van hierdie vorige veldtog sal bou.

“Ons wil ons visier nog hoër stel. Ons wil ook ons wildste hoofstad in die wêreld ook die veiligste hoofstad in die wêreld maak. Dit is ’n baie ambisieuse doelwit, en niemand is waarskynlik meer bewus van die uitdagings as ons nie, maar ons glo werklik dat tegnologie ons vir die eerste keer ooit in staat stel om daardie doel te bereik,” glo Marais.

Hul vertrekpunt met die veiligheidsveldtog is om een miljoen inwoners en besoekers te motiveer om aan te meld by ’n veiligheidstoepassing wat ’n paniekknoppie op jou selfoon installeer.

“Die paniekknoppie werk soos ’n Uber vir sekuriteit. Met die gebruik van die aanpassing word die naaste gewapende ontvanger van die boodskap na jou ligging gestuur vanaf meer as 400 gewapende reaksievennote. Ons het ongeveer 4.2 miljoen inwoners in Tshwane en ons glo sterk as ongeveer een uit elke vier mense toegang tot onmiddellike hulp het, sal dit ons help om ons doel te bereik,” verduidelik Marais.

Volgens haar is daar reeds ’n goeie voorbeeld van hoe doeltreffend so ’n aanpassing in Pretoria kan wees.

“Die Hatfield-stadverbeteringsdistrik se lede gebruik dieselfde toepassing en Tukkies het reeds sowat 5 000 studente ingeskryf,” vertel sy.

Die gebruik van die toepassing help die studente om veilig te bly by kroeë en klubs, teen sakkerollery en OTM-bedrog sowel as voertuigroof.

“Ons is tans besig om al ons lede en ander inwoners aan te moedig om ons te help om die stad veilig te hou,” wys Marais uit.

Sy glo veral sakelui kan baatvind deur hul personeel aan te meld. Sy versoek ook diegene in die toerismebedryf om hul gaste en besoekers aan te moedig om die paniekknoppie-toepassing te gebruik vir wanneer hul hulself ook in ’n noodsituasie bevind of voel hul kan dalk die teiken van misdaad word.

“Die toepassing gee diegene wat laat in die nag reis iemand wat hulle kan bel wanneer hulle hulp nodig het sowel as diegene wat op hul eie woon iemand te gee wat hulle kan bel in noodsituasies. Dit kan ook diegene wat vir ander sorg help sowel diegene wat iemand anders in die moeilikheid sien, maar te bang is om betrokke te raak,” bevestig Marais.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan secretary@tshwanetourism.com of info@pretoriabucketlist.co.za.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button