Local sportSchool sport

Klofies, Garsies kwalifiseer albei vir tuis halfeindstryde in Noordvaal Beker toernooi

Die eerste rugbyspanne van Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Garsfontein het hul beste vir laaste gehou om ná skitterende oorwinnings die afgelope naweek in die Noordvaal Cup (Beker-afdeling) toernooi in die eerste twee plekke op die punteleer te eindig.

As alles volgens plan verloop, kan liefhebbers van skolerugby in Pretoria oor twee weke twee plaaslike skole, Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Garsfontein, teen mekaar sien speel in die eindstryd van die Noordvaal Cup (Beker-afdeling).

Dit volg nadat albei dié skole se eerstespanne sterk geëindig het met groot oorwinnings in Saterdag se laaste ligabepalings en daardeur in die eerste twee plekke op die punteleer te staan gekom het.

Maklik was dit beslis nie, want dié twee skole móés albei bonuspunt oorwinnings behaal teen Hoërskool Monument (Waterkloof) en Hoërskool Dr. EG Jansen (Garsfontein), die ander twee spanne wat reeds vir die halfeindrondte gekwalifiseer het.

Behalwe vir ’n bonuspunt oorwinning moes die Garsie Bere boonop hul teenstanders uit Boksburg verhoed om enige ligapunte te verdien.

Hierdie scenario het presies so uitgespeel toe die twee plaaslike skole albei hul beste vorm herwin het en kookwater rugby gespeel het.

– Garsfontein se prestasie (wen 39-15) is boonop soveel meer merkwaardig as in ag geneem word dat drie van hul spelers weens nasionale verpligtinge (deel van SA o.18 spanne in die internasionale reeks in Kaapstad) nie vir die skool kon speel nie.

Die Garsies was egter klinies en verwoed en die seuns van Boksburg het nie veel antwoorde op hul gasheer se aanvallende spel gehad nie. Hulle het die besoekers oorrompel en in die proses die eerste span geword om EG Jansen vanjaar in die Noordvaal Cup toernooi te klop.

Met die Garsie Bere se voorspelers in beheer van sake kon Ruan Enslin en Xian Erasmus agterlangs baljaar en elkeen het twee keer agter die doellyn gaan kuier.

– Nadat die Klofies die afgelope paar wedstryde ’n effense insinking beleef het, was het die Blou Tornado Krugersdorp die afgelope naweek met volle geweld getref en ses keer teen Monnas op hul tuisveld gedruk om met 53-45 te wen.

Soos die telling aandui, het Monnas beslis nie net gaan lê en wag vir pakslae nie. Die tuisspan het veral in die tweede helfte met ’n reuse terugveg poging vordendag gekom en die Kofies moes alles uithaal om uiteindelik te seëvier.

Klofies se bedrywige senter, Happy Makate, was sy span se groot ster en hy het drie keer agter die doellyn gaan kuier.

In ’n ironiese verwikkeling word die afgelope Saterdag se wedstryde in eerskomende naweek se twee halfeindstryde herhaal. Die enigste verskil is dat Waterkloof hierdie keer op hul tuisveld sal speel. Daar kan geen twyfel wees dat die twee uitdagers uit die Oos- en Wes-Rand Saterdag albei met groot pogings vorendag gaan kom om vir die eindstryd te probeer kwalifiseer nie.

As die twee Pretoria spanne egter hul sukses van die afgelope naweek kan herhaal, wag daar ’n eksklusiewe Pretoria eindstryd oor twee weke om die Noordvaal Cup se Beker-kampioen te bepaal.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button