Local newsNews

Skilderye opgeveil om vermaakbedryf te help

Die kuns- en vermaakbedryf baat beide by ’n unieke fondsinsamelingsplan om samehorigheid te skep.

Voormalige inwoner van Pretoria, akteur en skrywer, Lizz Meiring, het onlangs in Pretoria-oos tydens ’n bemagtigingsgesprek feite oor die Teater Bystandfonds aan nuwe kunstenaars verstrek.

Die fonds ondersteun maandeliks meer as 30 akteurs en kunstenaars.

Hierdie ondersteuning sluit finansiële ondersteuning in. Die fonds help ook individue in die vermaakbedryf waar nodig met mediese onkoste, koste rondom ’n begrafnis sowel as entrepreneursopleiding om diegene verbonde aan die kunste te bemagtig om geldelik op hul voete te staan.

“Ons is dankbaar vir elke skenking. Ons kry nie ’n sent van die regering of enige groot korporasies nie en ons 12 bestuurlede verbonde aan die fonds gee ons tyd gratis,” verduidelik Meiring.

Die fonds is in 1964 gestig en is die enigste bystandfonds vir die kunste- en vermaakbedryf in Suid-Afrika.

“Dié fonds bestaan om die waardigheid van professionele persone in die vermaaklikheidsbedryf te handhaaf deur noodsaaklike ondersteuning te bied aan diegene wat dit nodig het,” verduidelik Meiring.

Sy het ook ’n bedrag van R37 000 namens die fonds in ontvangs geneem. Die bedrag is geskenk deur die TV-program ontbytSAKE en B Loved-kleinteater.

Die geld is tydens ’n veiling deur hierdie twee skenkers vir ’n skildery van Pieter Lombaard betaal ter stuiwing van die fonds. Die werk sal nou by die teater hang.

Meiring het ook ontvangs geneem van ’n tweede skildery geskenk deur Lombaard wat ook vir fondsinsameling gebruik sal word.

Lombaard sê sy skildery wat gekoop is om die fonds se beursie aan te suiwer, “Braam se engel” het ’n kosbare geskiedenis vir hom.

Hy het ’n foto geneem tydens ’n opvoering met ’n soortgelyke naam op Aardklop en toe gestalte daaraan gegee “omdat daar iets so geheimsinnig daaraan was”.

Lombaard en Meiring het al voorheen saamgewerk.

“Ek dink Meiring en die fonds se werk is ongelooflik. Ek weet hoe moeilik dit is om te oorleef en het ingestem dat die skildery opgeveil kan word. Dit is ’n eer om in die posisie te kan wees om te kan help,” benadruk Lombaard.

Die B Loved Foundation, onder voorsitterskap van Louis McLaren, is die stigter-organisasie van B Loved- kleinteater, asook ander inisiatiewe wat daarop gemik is om kwesbare mense in die kunste by te staan en te ondersteun.

McLaren, ’n passievolle kunste-entrepreneur, glo dit is van uiterste belang om akteurs en kunstenaars by te staan.

“Die unieke benadering om ’n skilder te ondersteun deur sy skildery te koop, en dit dan te gebruik om fondse in te samel, bevorder ’n gevoel van samehorigheid en kollektiewe betrokkenheid binne die kunste,” glo McLaren.

Daar het ook voor die verrigtinge ’n bemagtigende entrepreneurswerkswinkel plaasgevind met Rug Teen Rug-sangkunstenaars.

RugTeenRug Musiek is ’n inisiatief wat twee jaar gelede deur McLaren gestig is.

Sangeres van die Moot, Elmé Churr, het die werkwinkel bygewoon.

“Wat ’n lekker werkswinkel saam met die groep sangers! Soveel ongelooflike mense met groot harte wat terugploeg in die kunste en hartstog het om kunstenaars met kennis te omvou en te versterk,” sê Churr.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button