Local sportSchool sportSport

Klofies wen spannende stryd teen Helpmekaar, Garsies val vas in die Laeveld

Liefhebbers van skolerugby kan uitsien na ’n paar weke van groot opwinding in die SDC Noorvaal Cup toernooi, nadat ’n paar interessante uitslae die afgelope naweek die laaste fase van hierdie reeks op ’n hoë noot ingelui het.

Die SDC Noordvaal Cup skolerugby toernooi het die afgelope naweek hervat ná ’n onderbreking weens die skoolvakansie en sommer met die intrapslag was daar klipharde tweestryde en ten minste een reuse verrassing.

Hoewel Hoërskool Nelspruit, wat agtste op die punteleer lê en tot voor Saterdag slegs een ligabepaling kon wen, vir die skok van die toernooi tot dusver gesorg het deur Hoërskool Garsfontein te klop, het ander uitslae gesorg dat daar nie veel verandering op die punteleer plaasgevind het nie.

Hoërskool Menlopark se nederlaag met 22-62 teen die mede-voorloper op die punteleer, Hoërskool Dr. EG Jansen, beteken dat Menlo steeds saam met Hoërskool Marais Viljoen onder op die punteleer vasgepen is.

– Die wedstryd waarin Waterkloof op hul tuisveld met Helpmekaar kragte gemeet het, was waarskynlik een van die opwindendste tot dusver in die reeks. Die twee spanne het sommer van die afskop af die pap dik aangemaak en mekaar se verdediging behoorlik beproef.

Met die tuisspan wat hul rekening vroeg met ’n strafdoel geopen het, was dit Helpmekaar wat eerste die doellyn kon haal toe hulle besit in die rooi gebied omgekeer en vinnig toegeslaan het.

Laat in die eerste helfte het Helpies weer gaan druk, maar terwyl hul skopwerk telkens skeefgetrek het, was dit Klofies se Ronan Bastiaanse (heelagter) wat sy span in die prentjie gehou het met twee strafdoele om die rustydtelling op 10-6 in die besoekers se guns te staan te bring.

Dit was die einste Bastiaanse wat kort na rustyd sy span se neuse voor gekry het op die telbord toe hy die besoekers met slim spel gefnuik het om te gaan druk. Klofies se heelagter-held het ook ’n aandeel in hul tweede drie gehad toe ’n teenaanval van hom geëindig het met ’n drie deur flank Divan Botha.

Daarna het die telling wiplank gery met drieë aan albei kante en toe die besoekers met slegs ’n paar minute se spel oor hul vyfde drie gaan druk om die telling op 29-26 in hul guns te laat staan, wou dit lyk of die Klofies hul onoorwonne status én voorste plek op die punteleer kwyt is.

Die Klofies is egter bekend as vegters wat nie maklik gaan lê nie. Helpmekaar se ondersteuners sal ook lank nog wonder waarom hul span met ’n minuut speeltyd oor die bal op riskante wyse wyd wou speel. Klofies se regtervleuel, Malcolm George, het sy kans afgewag en ’n los aangee onderskep om die wendrie – wat ook aan die Klofies ’n krities-belangrike bonuspunt verskaf het – te druk.

– Die wedstryd in die Laeveld tussen Nelspruit en Garsfontein, wat met 30-29 deur die tuisspan gewen is, was nie sonder omstredenheid nie. ’n Gros strafskoppe teen die besoekers en ’n baie omstrede drie het aan Nelspruit die geleentheid gebied om na ’n halfuur reeds met 16-0 voor te loop.

Die Garsie Bere kon sekondes voor rustyd daarin slaag om hul eerste drie te druk om die rustydtelling op 16-5 te staan te bring.

Na die draaislag het Garsfontein weer gaan druk, waarna Nelspruit self met ’n vinnige tikskoppie hul tweede kon druk.

Garsfontein het hulself ook nie veel guns bewys nie en swak verdediging het gelei tot die tuisspan se derde drie.

Daarna het die Pretorianers aanhoudend aangeval en kon nog drie keer druk, maar verbroude skopwerk het hulle uiteindelik duur te staan gekom. Hulle het vyf keer gedruk teen die tuisspan se drie drieë, maar tog met ’n punt verloor.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button