Local newsNews

Befaamde akteur ‘gooi kole’ wêreldwyd

Die wêreld is sy oester. Van sy grootworddorp, Randfontein tot Los Angeles maak Sandilands woestyne en verhoë landwyd geesdriftig sy eie en gee die ervaring aan na filmliefhebbers, TV-kykers en rockmusiekliefhebbers.

Neil Sandilands verskyn op die verhoog in sy elektriese oranjeprotea pakkie en die orkes spring weg met ’n spookagtige perkussie-inleiding wat jou onmiddellik laat regop sit.

Dis asof jy sommer weet: Nou gaan die poppe dans!

Daarna stel hy en sy orkes geensins teleur met die liedjies van hul Land & Sand-vertoning nie.

Sandilands en Die Haaspille het die toer van 40 konserte vanaf 27 Junie tot 4 Augustus aangepak om hul nuwe album met dieselfde titel, Land & Sand, vry te stel.

So langs die toerpad het die orkes ’n naam gekry. “Die Band” het “Die Haaspille” geword nadat Sandilands hulle so grappenderwys op die verhoog genoem het.

Schalk Joubert, Frank Freeman en Ronan Skillen bied aan Sandilands ’n meesterlike onderbou tot sy unieke eie ghitaarwerk.

Die hoogtepunte en juwele soos die liedjies, “Hebsibah” en “Melk op die strand”, kom eers later in die vertoning.

Tot dan voer Sandilands en Die Haaspille jou op ’n unieke rocktoer met Joubert se bluesklanke wat ’n sekere melankolie aan die liedjies bring en Freeman se solo’s as ritmiese tussenspel.

Tussen die refreine skets Sandilands op sy lakoniese manier sy lewensfilosofieë asof uit die mond van sy filosofiese alter ego, Frikkie Duvenage.

Sy anekdotes tussen die liedjies loop wyd vanaf sy woonstel in New York, sy reise na eilande tydens Covid-19, ’n besoek aan Yukatan in Mexiko en sy nuwe tuiste op Onrus in die Overstrand.

Neil Sandilands

“Ek kan met oortuiging sê om in Onrus te woon kalmeer my. Dis lekker om ’n goeie buurman te kan wees,” vertel Sandilands.

Die konserte is met rede uitverkoop in talle sentra soos die mees noordelike een in Tzaneen en in Thabazimbi.

Die vertoning het ’n nominasie vir die beste musikale produksie tydens die Vrystaat Kunstefees verwerf.

Die omslag vir die album Land & Sand is vir Neil Sandilands ’n historiese oomblik. Dis ’n ou Polaroid-foto wat hy in sy stoorkamer in Sandbaai herontdek het. Dit wys die eerste keer wat hy ooit voor ’n lewendige gehoor opgetree het. Dit was geneem tydens ’n revue van Laerskool Randfontein in 1982 en hy het ’n solo “Hak Hom Blokkies” van David Kramer met oorgawe gesing.

Sandilands is na die toer vroeg in Augustus op pad na Los Angeles waar hy ’n rol in die onafhanklike film, The Surrender, gaan speel.

Sy filmloopbaan sluit rolle in films soos Kingdom of the Planet of the Apes (2024), London Calling (2023), Slay (2023), Wetiko (2022) en die Akademie-genomineerde News of the World (2020). TV-rolle sluit in The 100, Hap and Leonard, House MD en NCIS: LA.

Die opneem van die album voor die toer afgeskop het, het hom net soveel genot verskaf.

“Die album het tot stand gekom deur ’n sameloop van omstandighhede,” vertel Sandilands.

’n Studio waarin hy graag opneem, Bellville Studios, gaan skuif na Kaapstad. Hy het ’n “venster van geleentheid gehad” om die laaste album in die befaamde studio op te neem.

Schalk Joubert

“Ek kon saam met my jarelange vriend en vervaardiger, Theo Crous, werk. Ons verstaan mekaar. Ons het nie tyd vir tierlantyntjies nie,” som hy die Bellville-opnames op.

Sy persoonlike gunsteling op die album is “Lei my na die Water”.

Sandilands is een van Suid-Afrika se mees veelsydige akteurs en kunstenaars.

Sy hart lê egter nie net by die kalklig nie, maar óók by die lig van ’n kampvuur.

Die landwye toer is na die opname van die album voorafgeloop deur opnames vir ’n opvolg van die TV-program Die Groot Niks.

In die nuwe program gee hy ’n blik vir TV-kykers op Namibië se Kaokoveld.

Die woestynreis opsigself, saam met die ander deelnemers en produksiespan, het Sandilands se “asem weggeblaas”.

“Ons het woestynleeus en woestynolifante gesien en kon die rare en seldsame areas van die Kunene-riviermond besoek. Die woestyn se kleure bly my by.”

Vir hom was ’n hoogtepunt tydens die Kaoko-veldreis die maak van ’n video-opname van ’n liedjie getitel “Gooi Kole”.

“Die span het ingestem om na na ’n lang dag se verfilming, sommer te jive om die vuur! Die genot wys! Hoe dan anders? Terloops, die kêrel met die reusesnor wat so lekker jive en duik, se naam is juis Johan ‘Kole’ Kruger. Ek kan nie wag om te sien as mense hulle eie ‘Gooi Kole’ videos vir my begin stuur nie. Die rook gaan draai!”

Die omslag vir die album Land & Sand is ’n ou Polaroid-foto: die eerste keer wat hy ooit voor ’n lewendige gehoor opgetree het.
Neil Sandilands

– Die musiekvideo vir “Gooi Kole” is hier beskikbaar: https://youtu.be/Jt01qup1kK8?si=cEcBJ4ShWdEe_LaP

– Die Haaspille is weer te sien in Pretoria op die 21 Julie in die Pierneefteater in die Moot, op 23 Julie in Café Barcelona en by die Sowaar Bar op 26 Julie.

– Die Land & Sand-album is nou beskikbaar op alle digitale platforms soos hier: https://vyd.co/LandEnSand

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button