Local newsNews

Hoë koppe betrek by musiekfeesskandaal

‘n Stadsraadlid het met die aankondiging van ’n mega-musiekfees in 2014 in ’n onontwikkelde gebied naby Cullinan reeds snuf in die neus gekry als is nie pluis nie. ’n Forensiese verslag het tien jaar later die vermoede bevestig en optrede sal volg.

Tien jaar gelede tydens die naweek van 26 tot 28 September 2014, sou die hip hop-ster van Trinidad, Nicki Minaj, kwansuis haar debuutvertoning op Afrika-grond saam met 150 ander kunstenaars van regoor die wêreld in ’n oop veld naby Refilwe in Cullinan gemaak het.

Die Tribe One Dinokeng-musiekfees is egter skaars twee weke voor dit sou plaasvind, deur die organiseerders gekanselleer.

Finansiële implikasies vir die metro rondom die mislukte fees is nou bykans tien jaar later op ’n vergadering van die Munisipale Openbare Rekeningskomitee in Junie oorweeg. Dit na die voorlegging van ’n forensiese verslag oor wanbesteding en besteding sonder behoorlike magtiging rondom die fees.

Die stadsraad het die aanbeveling van die rekeningekomitee aan die einde van Junie goedgekeur dat sulke onreëlmatige uitgawes gedurende die 2023/24-boekjaar verhaal word.

Nicky Minaj sosiale media plakkaat wat tydens die organisasie van die Tribe One Dinokeng-musiekfees gebruik is.

Die Artikel 79A-komitee het aanbeveel dat onreëlmatige uitgawes van R246-miljoen verhaal word.

Hierdie bedrag in totaal sluit die fondse in wat aan die gekanselleerde musiekfees spandeer is, sowel as ander gevalle waar munisipale fondse bestee is sonder behoorlike magtiging of in stryd met gevestigde finansiële protokolle gedurende die afgelope fiskale jare.

’n Raadsopdrag is daarna aan die stadsbestuurder gegee vir verdere aksie teen beamptes en ampsbekleërs wat geïmpliseer is in sulke gevalle van beweerde vrugtelose fondsverkwisting oor die afgelope dekade.

Een van die stadsraadslede wat reeds tien jaar betrokke is by die ondersoek na die beweerde wanbesteding aan die organiseerders van die fees, Siobhan Muller, sê sy wil hierdie opvolg-aksie van die raad oor die fees uitbrei.

Sy glo ander betrokkenes by die organisasie van die gekanselleerde fees moet ook uitgewys word.

“En hiermee bedoel ek individue wat in die metro se vennootskap vir die uitvoering van die kontrak met Sony Music Entertainment verbind kan word.

Die metro het oor die loop van 2014 meer as R25-miljoen vir die hou van die fees uitbetaal aan ’n onderneming wat gestig is om die fees te organiseer. Ek gaan dit my werk maak om ’n bestuurslid van hierdie musiekreus in Suid-Afrika se beweerde rol by hierdie onderneming en die organisasie van hierdie mislukte fees, aan hul moedermaatskappy in Japan te verduidelik. Hul internasionale kantoor moét hierna ondersoek instel,” benadruk Muller.

Sy sê die forensiese verslag onderstreep haar eertydse vermoede tydens haar eerste besoek tien jaar gelede aan die beplande feesterrein in Refilwe.

“Toe ek die eerste keer daarvan gehoor het, het ek reeds ’n aanvoeling gehad dat als nie in orde was nie. Ek het ter plaatse ’n ondersoek in die area naby Cullinan by Refilwe gaan doen.

Die feit dat metro-geld gebruik sou word om infrastruktuur op private grond op te rig, het my reeds verontrus. Dit was teen die Wet op Munisipale Bestuur. Verder was die feesterrein ook naby ’n vleiland geleë,” verduidelik Muller.

Sy was bekommerd oor die omgewingsimpak op die vleiland oor die drie dae wat dit sou plaasvind en die feesorganiseerders se geskatte 10 000 feesgangers wat dit sou trek.

So het die organiseerders die Tribe One Dinokeng-musiekfees op sosiale media gevisualiseer.

’n Begraafplaas sou ook deur die skepping van infrastruktuur geraak word.

“Dit sou ’n internasionale fees wees wat glo voordele vir die gemeenskap sou bring soos nuut-ingestelde onbeperkte wi-fi-dienste, akkommodasie in gastehuise en verkoop van voedsel en drank,” verduidelik Muller.

Nadat die fees gekanselleer is, het Muller se kommer verder begin strek.

Sy meld net meer as 700 kaartjies is uiteindelik verkoop.

Niemand het na die kansellasie om hul geld terug gevra nie en daar was ook geen teken dat die kunstenaars wat sou optree, beswaar aangeteken en kansellasiefooie vir hul optrede van die organiseerders teruggeëis het nie.

“Niemand het eers op sosiale media oor hul verlore kaartjies gekla nie en ek het dit vreemd gevind. Geeneen van die uitstallers wat glo by die fees sou wees, het aangedui dat hulle skadevergoeding gesoek het vir kostes aangegaan nie. Dat dit gekanselleer is sonder reaksie, het net nie sin gemaak nie,” vertel sy.

Sy het met die DA se oorname in die stadsraad in 2016 leiding geneem om ondersoek in te stel na wat werklik met die fees se uitgawes en uitbetalings van die metro van meer as R25-miljoen aan die feesorganiseerders gebeur het.

“Ek het met my navorsing agtergekom iets is nie pluis nie,” sê Muller.

So het die organiseerders die Tribe One Dinokeng-musiekfees op sosiale media gevisualiseer.

Die verslag is reeds in 2017 deur ’n bekende forensiese ouditeursfirma voltooi en aan die metro oorhandig.

Die fees se koördinasie van die metro se kant het in 2014 plaasgevind onder die leierskap van die burgemeester Kgosientsho Ramokgopa, pas aangestel tydens die onlangse kabinetskommeling na die Mei 2024 nasionale verkiesing as Minister van Elektrisiteit en Energie.

“Fondse is iewers afgeteken, en ek het deurlopend gewonder hoe het die metro se uitbetaling van meer as R25-miljoen plaasgevind. Die burgermeesterskomitee onder leiding van burgemeester Ramakgopa het dit wel goedgekeur,” verduidelik sy.

Die Minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa

Sy benadruk die forensiese verslag sal om vertroulikheidsredes nie openbaar gemaak kan word nie.

“Ek vra myself af, en het ook vir die opstellers van die verslag gevra dat hierdie vraag oorweeg word: Is daar ooit beplan dat die fees, soos voorgestel, sou plaasvind?” benadruk Muller.

Sony Music Entertainment het op versoeke vir kommentaar aan Rekord laat weet by monde van hul woordvoerder, Katlego Malatji, dat hulle nie enige kommentaar in die stadium wil lewer nie.

Die metro se woordvoerder, Selby Bokaba, sê forensiese verslae word as ’n beginselsaak nie met die publiek gedeel totdat die volledige proses, wat dissiplinêre prosedures en kriminele vervolging mag insluit, nie voltooi is nie.

Kommentaar is aangevra van die Minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, maar geen is teen druktyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button