Local sportSchool sportSport

Onder-16 rugbyspeler van Menlopark laat die oë rek met reuse skoppe

’n Graad-10 skoolseun van Hoërskool Menlopark het wêreldwyd op sosiale media opslae gemaak toe sy merkwaardige skopwerk tydens die afgelope Saterdag se NWU Sportreeks o.16 eindstryd op verskeie platforms gepubliseer is.

’n Graad-10 skoolseun van Hoërskool Menlopark het letterlik die hele rugby-wêreld aan die gons, nadat hy Saterdag op die rugbyveld van Hoërskool Eldoraigne toeskouers na hul asems laat snak het met ’n paar enorme stel- en skepskoppe, wat menige professionele speler jaloers sou maak.

Dylan Stumke speel binnesenter vir Hoërskool Menlopark se o.16 A-rugbyspan, wat danksy dié lenige speler se skitterspel en skopwerk Saterdag as o.16 kampioen in die NWU Sportreeks gekroon is.

Dié skugter seun was deur en deur sy span se held in Saterdag se eindstryd, aangesien hy al hul punte aangeteken het vir hul oorwinning van 17-16 oor Hoërskool Kempton Park.

Hy het vroeg in die wedstryd die bal op die halflyn ontvang in ’n uitgewerkte beweging ná ’n vaste skrum. Daarna het hy soos ’n warm mes deur botter regdeur die teenstanders se verdediging gesny en 50 meter ver genael vir sy drie.

Die losskakel se doelskap was mis en daarna het Stumke die skopwerk oorgeneem. Sy eerste stafdoel was – geoordeel aan sy eie standaard – verspotmaklik. Hy het die bal in lyn met die regter-regoppaal gestel en vanaf sowat 30m oorgeklits.

Sy tweede poging was die een wat uiteindelik die afgelope twee dae ’n sosiale media sensasie geword het. Dit was ’n monster skop van sowat 63 meter, maar hoewel dit ver genoeg was, het Stumke dit effens regs verby die pale laat trek. Dis toé dat hy sy indrukwekkende temperament vertoon en byna dadelik sy fout regstel. Hy het vanaf die daaropvolgende afskop van Kempton Park die bal op die halflyn ontvang, waarna hy vasgetrap het en doodluiters ’n 50 meter skepdoel met sy giftige linkervoet deur die pale gejaag het.

Toe volg Stumke se suksesvolle monster-stafdoel van byna 55 meter halfpad deur die tweede helfte. Hy het die bal net agter die middellyn, teenaan die kantlyn gestel en weer met die linkervoet oor die dwarslat laat seil.

Dylan Stumke laat waai met sy giftige linkervoet in Saterdag se NWU Sportreeks eindstryd vir o.16 spanne.
Foto: Frans Lombard

’n Kwartier voor die eindfluitie het Stumke die uiteindelike wenpunte aangeteken met nog ’n stafdoel van sowat 35m.

Nadat hierdie skopwerk van die jong skoolseun op sosiale media vertoon is, het dit letterlik wêreldwyd opslae gemaak. Hy is vergelyk met Suid-Afirka se legendariese kanonpoot Springbok legende, Frans Steyn, terwyl die krieketsterre, Kevin Pietersen en Herchelle Gibbs, sowel as die All Black legende, Beauden Barrett, op sosiale media kommentaar gelewer het oor Stumke se merkwaardige skopwerk.

Rekord het met Rooies Auret, sy afrigter by Menlopark se o.16 span, gesels. Volgens Auret is dié talentvolle seun ’n harde werker wat ure aan sy skopwerk skaaf saam met, Ivan Venter, die skool se skopafrigter en voormalige Carltonbeker ster van klubs soos Pretoria Polisie en Harlequins.

Stumke is ’n voormalige leerling van Laerskool Tuine, maar sy ouers woon deesdae in Roodekrans naby Krugersdorp. Daarom is hy ’n koshuis-leerling by Menlopark, waar hy sedert graad-7 skoolgaan.

Hoewel hy nie graag oor homself praat nie, het Stumke so via sy afrigter se foon aan Rekord bevestig dat Saterdag se monster skoppe nie sy beste tot dusver is nie.

“Ek het in oefeninge al stelskoppe van 65m en skepskoppe van 60m oorgesit,” het hy skamerig erken.

Dié nuwe sosiale media sensasie het verlede jaar vir die Blou Bulle se o.15 span by die bekende Rhino Week uitgedraf.

Hy is ook ’n puik krieketspeler, wat by Menlopark ’n rekord hou toe hy tydens ’n wedstryd op ’n kriekettoer die vinnigste 50-tal ooit vir een van dié skool se spanne geslaan het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button