Local newsNews

Verkiesing: Veiligheid van inwoners ‘n prioriteit vir metro

Veiligheid en sekuriteit rondom die verkiesing en op verkiesingsdag is nie 'n gegewe nie, meen kenners. Die OVK weier egter om skrik gemaak te word deur insinuasies van geweld.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se uitvoerende hoofbestuurder, Sy Mamabolo, het ’n waarskuwing aan politieke partye gerig wat dreig om die opkomende verkiesing te ontwrig.

Mamabolo het by die Nasionale Persklub se Maartvergadering gesê die kommissie sal sy pligte uitvoer sonder vrees vir intimidasie.

“Eerlikwaar, die kommissie word nie bang gemaak deur die insinuasie van geweld teenoor Suid-Afrikaners tydens die verkiesing nie. Natuurlik is ons besorg oor die veiligheid van alle burgers en dat niks met hulle op verkiesingsdag moet gebeur nie, maar die kommissie voel op geen manier bedreig nie,” beklemtoon Mamabolo.

Die OVK se uitvoerende hoofbestuurder Sy Mamabolo

Hy het Suid-Afrikaners verseker die kommissie sal sy gedragskode tot op die letter uitvoer.

Suid-Afrika het volgens Mamabolo ’n geskiedkundige mylpaal bereik toe 27 811 912 stemgeregtigde burgers geregistreer is om op 29 Mei vanjaar te stem.

Hiervan is 55.24% vroulik en 44.76% manlik.

Met die vorige landwye verkiesing in 2021 het 26 204 579 geregistreerde kiesers aan die verkiesing deelgeneem.

Die metro se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, Grandi Theunissen, sê alvorens en op 29 Mei sal alle wetstoepassingsorganisasies in die metro gesamentlik die veiligheid en sekuriteit 24/7 bestuur.

Burgemeesterskomiteelid Grandi Theunissen

Nooddiense sal ook in plek wees voor, gedurende en na die verkiesingsdag.

“Beide die metropolisie en Suid-Afrikaanse polisie se spanne sal verantwoordelik wees vir die versending en verspreiding van veiligheidsmateriaal van verspreidingssentrums na stemlokale.

“Hierdie twee instellings sal ook tuisbesoeke doen aan kiesers wat spesiale stemme uitbring. Hulle sal ook omsien na die veiligheid rondom die uitbring van ander spesiale stemme.

“Hierdie operasies behels die aflaai en versameling na die verkiesing van stembriewe en die terugneem na lokale waar dit getel sal word,” sê Theunissen.

Hy gee inwoners van Pretoria die versekering dat die metro se departement van veiligheid en sekuriteit sulke gesamentlike operasies toegewy gaan aanpak.

“Ons volledige personeel-komponent sal ons primêre veiligheidsmandaat as metro uitvoer deur dag tot dag wetstoepassing steeds te doen maar ook veiligheidsfunksies aan ons toegeken. Vir die verkiesingstyd staan ons departement onder die bevel van die Suid-Afrikaanse polisie,” sê Theunissen.

“Die metropolisie is daaraan toegewy om toe te sien dat die verkiesingsproses in ’n veilige omgewing plaasvind,” verduidelik Theunissen.

Volgens hom sal voorkomende maatreëls ingestel word om die moontlikheid van bedreigings en risiko’s te beperk en aan te spreek.

Theunissen beklemtoon die metro sal ook die kommissie se operasies rondom die uitvoering van hul gedragskode aanvullend ondersteun.

“Deeglike beplanning vir veiligheid en sekuriteit tydens die verkiesing is reeds in plek op sterkte van ons ervaring uit die verlede. Hiertoe het al die rolspelers in die veiligheidsgemeenskap in die metro reeds ingestem,” sê Theunissen.

Politieke kenner en professor in politieke wetenskap aan Unisa, Dirk Kotze, voorsien nie dat die gewone kieser op die dag van die verkiesings aan geweld by die stembus blootgestel gaan wees nie.

“Ek verwag dat kiesers op die meeste plekke op verkiesingsdag oor die algemeen veilig sal wees. Alhoewel daar in die verlede in Suid-Afrika op verkiesingsdae individuele en geïsoleerde gevalle van geweld was, is dit nie die algemene tendens nie,” verduidelik Kotze.

Hy glo egter dit is nie onmoontlik dat daar in sommige gevalle wel gevalle sal wees nie.

“Daar kan gevalle by die stembus en vooraf voorkom op plekke waar daar veral baie intense kompetisie tussen partye is, soos waar die ANC en MK teen mekaar te staan kom,” sê Kotze.

Prof. Dirk Kotze

Hy wys uit dat waar in die verlede soms ’n moontlikheid van geweldsvoorvalle voor verkiesingsdag was, die teendeel dalk nou waar is.

“Daar is partye soos MK wat reeds aangedui het dat hulle nie glo die OVK is onpartydig nie. Indien sulke partye heelwat minder stemme kry tydens die verkiesing as aangedui in die meningsopnames voor die verkiesing, kan hulle voel die proses het teen hulle getel. Sulke partye gaan moontlik nie die uitslag wil aanvaar nie wat problematiese gevolge vir die land kan hê,” glo Kotze.

Hy waarsku egter dat die uitspraak van die Verkiesingshof in die hofsaak wat die ANC teen die MK-party en die OVK gemaak het, tot voorvalle van geweld voor die verkiesing kan lei indien die uitspraak nie in die guns van die MK-party van voormalige president Jacob Zuma is nie.

Die hof het uitspraak voorbehou in die saak waar die MK se registrasie as ’n politieke party deur die ANC bevraagteken word.

– Kliek hier vir meer kiesersinligting oor 29 Mei: https://www.elections.org.za/pw/voter/voter-education

– Kliek hier om jou stembuslokaal te vind: https://tinyurl.com/328km8wy

– Skakel die OVK se hulplyn op 0800 11 8000 vir meer inligting.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button