Local sportSport

Tuine Tiere bied unieke bokstoernooi aan

Boksliefhebbers in Pretoria kan eerskomende naweek uitsien na ’n interessante bokstoernooi, waar junior-amateurs, senior-amateurs, vroueboksers én vyf van Pretoria se beste meesters-boksers almal in aksie gaan wees.

Amateur boks-aksie is terug in Pretoria… die keer met ’n kinkel.

Boks, en spesifiek amateur boks, is een van die sportsoorte wat redelik swaar getref is deur die gevolge van Covid. Boksklubs is egter stadig maar seker besig om weer hul koppe – en vuiste – op te tel en die Tuine Tiere Boksklub het nou met ’n unieke konsep vorendag gekom in hierdie herlewingspoging.

Dié klub, in samewerking met die Backhouse Boksklub van Montana – waaroor Rekord in Oktober verlede jaar berig het – bied eersdaags ’n opwindende toernooi aan wat beloof om nie net aan amateur boksers die geleentheid te gee om hul vaardighede te vertoon nie, maar ’n spesiale meesters-boksers aspek sal ook aan toeskouers waarde vir hul geld bied.

Hierdie konsep behels vyf meesters-boks gevegte, waarin ervare manne wat deesdae by Tuine Tiere en Backhouse Boksklub hul vaardighede slyp en hul sport onder die vaandel van die SA Meesrers Boksvereniging beoefen, in aksie sal wees.

Zandri Adams (links) en Marichanka Hoffmann (regs) is goeie vriende, maar Saterdagaand gaan daar min genade betoon word wanneer hulle teen mekaar te staan kom in een van di egevegte by die Tuine Tiere se toernooi, wat in die Duiweklub saal in Suiderberg aangebied word.
Foto: Koos Venter

Tuine Tiere se toernooi sal op Saterdag 16 Maart aangebied word by die Suiderberg Duiweklub se saal op die hoek van Dennyssenlaan- en Sannasposstraat. Die deure sal om 18:00 open en die aksie begin om 18:30.

Die toernooi sluit agt amateurgevegte, asook een opwindende vroue-geveg in. Junior- en senior boksers van hiedie twee klubs sal in aksie wees.

Dan is daar die unieke kinkel, wanneer vyf plaaslike meesters-boksers (ouer as 35) in vyf gevegte in aksie gaan wees. Dié vyf Pretorianers het elkeen op sy eie manier diep spore in amateurboks – en in sommige gevalle ook in die beroepskryt – getrap. Hulle is Divan Vermeulen, Roedolf Venter, Jean Botes, Piet Hoffmann en Martin de Beer.

Hoffmann en sy dogter, Marichanka, sal waarskynlik geskiedenis maak, wanneer hul albei by dieselfde toernooi in aksie gaan wees. Sy sal teen Zandri Adams boks.

Vir meer besonderhede oor die toernooi, wat die formaat van ’n “Box & Dine” sal aanneem, kontak  Helgard by 0725745041 of Suzette by 0722154704.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

Back to top button