Local newsNews

Wonderboom-lughawe: nuwe bestuursplan, anti-korrupsie maatreëls word benodig

Pretoria-sakelui is positief oor nuwe ontwikkelingsmoontlikhede wat kan ontstaan uit die bedryf van die Wonderboom-lughawe deur 'n privaat lughawebestuursmaatskappy.

Die Pretoria Sakekamer sê deursigtigheid van die bestuursproses om die Wonderboom-lughawe volgens ’n nuwe model te bedryf, is van uiterste belang.

Fergus Ferguson, voorsitter van die Pretoria Sakekamer, meen hierdie oogmerk kan net bereik word indien die Tshwane tegniese span wat hiervoor ingespan is, gereeld terugvoer gee oor vordering, prosedures, uitkomste en teikendatums.

Hy het egter ’n waarskuwing gerig.

“Ons sien uit na die tegniese komitee se aanbevole tydlyne, maar ook na maatreëls om korrupsie en onregmatige bevoordeling hok te slaan en die toepassing van deurlopende professionele bestuur- en regeerstrategieë.”

Ferguson het kommentaar gelewer op die aankondiging vroeër vandeesmaand van die metro dat ’n nuwe model vir die bedryf van die lughawe goedgekeur is.

Daarvolgens sal die metro die eienaar van die lughawe bly, maar die bedryf daarvan uitverhuur aan ’n privaat lughawebestuurmaatskappy.

Die privaat sektor sal ook deur die metro toegelaat word om die lughawe en die onmiddellike omgewing tot die voordeel van inwoners van Tshwane te ontwikkel.

“Ons is nie net opgewonde hieroor nie, maar ook verheug oor die besluit,” benadruk Ferguson.

Fergus Ferguson, voorsitter dan die Pretoria Sakekamer. Foto: Elize Parker

Om momentum aan die besluit te gee, is ’n prosesplan.

Die stadsbestuurder, Johann Mettler, moet ’n tegniese span van kundiges saamstel om oor die proses toesig te hou.

“Vir té lank is die lughawe sonder ’n behoorlike werkbare plan bestuur deur onbevoegde strukture wat nie spesialiseer in die lugvaartbedryf nie,” wys Ferguson uit.

Hy het nuwe moed met die rigting wat nou deur die metro ingeslaan word.

“Dit is duidelik dat die metro besef het dat ’n bate in die hande van die munisipaliteit nie noodwendig beteken dat so ’n bate winsgewend is nie. Tot op hede was en is die lughawe ’n bodemlose finansiële verliesput vir die metro,” verduidelik Ferguson.

Stadsbestuurder Johann Mettler moet ‘n tegniese span saamstel om oorsig te hou oor die inwerkingstelling van ‘n nuwe bedryfsmodel vir die Wonderboom-lughawe. Foto: Elize Parker

Volgens hom het die Sakekamer reeds ’n geruime tyd besef dat hierdie toedrag van sake onvolhoubaar is.

Gesprekke oor ’n nuwe era vir die lughawe se bedryf is reeds in 2023 deur sakekamerlede met spesialiste in die lugvaartbedryf gevoer vir ’n werkbare bestuursplan en model-konsep vir die lughawe.

Hy wys daarop dat navorsing toon die lughawe kan suksesvol en winsgewend bedryf word.

“Wonderboom-lughawe kan by wyse van so ’n vennootskap die enorme verlies wat Tshwane maandeliks ly, in ’n bate met goeie langtermynopbrengs omskakel,” meen Ferguson.

Hy wys daarop dat die Sakekamer se navorsing oor die ekonomiese vermenigvuldiger van hierdie inisiatief toon dat verskillende industrieë soos lugvaartopleiding, infrastruktuur-ontwikkelling en logistieke dienste, hierdeur gestimuleer sal word.

Vir Ferguson met sy visioen om Pretoria ’n wêreldklas sakesentrum teen 2050 te maak, is die nuwe model ’n stap in die regte rigting.

“Dit sal onteenseglik ’n groot bydrae maak om beleggings en maatskappye na Pretoria te lok,” sê hy.

Hierdie stap moet ook onder ’n groter vergrootglas geplaas word, glo Ferguson.

“Alhoewel die amptelike proses hierrondom nog ver van finaal is, het die besluit van die metro wind onder die vlerke gesit vir samewerking vorentoe vir ande projekte tussen die stad en die privaat sektor,” meen hy.

Lees: Tatjana could make sports history in 2024

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button