Local newsNews

Leeuwelpies, verjaarsdaggorilla en nuuskierige kamele sterre van kerspartytjie

Kersvieringe by die Pretoria-dieretuin het spesiale bederfkos vir die eenjarige leeuwelpies, drinkbare jogurt vir die verjaarsdag van die gorilla en 'n verrassig tussen die takke en blare vir die nuuskierige kamele ingesluit.

Drie vroulike leeuwelpies wat op die ouderdom van twee weke gered is van swartmark leeusmouse, was vanjaar die sterre van die Pretoria-dieretuin se kerspartytjie.

Die drie eenjarige wyfies – Zena, Sora en Venus – is deur die polisie gekonfiskeer toe leeusmouse hulle wou verkoop.

Die kurator van die Pretoria-dieretuin se roofdierafdeling, Carol Thobela-Mabaso, sê twee van die wyfies kom vanaf een ouerpaar terwyl die ander een van ‘n ander trop kom.

Die kurator van die roofidierafdeling van die Pretoria-dieretuin, Carol Thobela-Mabaso. Foto: Elize Parker.

 

Kenneth Baloyi is een van die bewaringsbeamptes by die Pretoria-dieretuin wat die kamele en alpacas versorg. Foto: Elize Parker

Die Gautengse Departement van Landbou en Landelike ontwikkeling het die drie diere aan die dieretuin na die beslaglegging toevertrou.

Die hofsaak rondom die misdaad is nog hangende.

Sluikhandel in leeuwelpies is deel van die leeus-in-aanhoudingbedryf in Suid-Afrika wat die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, ‘n einde aan wil maak deur nuwe wetgewing oor die bestuur van ikoniese spesies in te stel.

 

Sora is een van drie eenjarige welpies wat gekonfiskeer is van leeusmouse en in die sorg van die Pretoria-dieretuin geplaas is. Foto: Elize Parker

Met swartmark leeuhandel word welpies van een week tot vier maande deur leeusmouse van hul ma’s weggeneem sodat die wyfies weer vinnig in oestrus kan kom.

Ondertussen het die drie naam vir hulself gemaak met hul nuuskierige en spelerige persoonlikhede in hul kampie langs die kampe van die twee wolwe, jakkals en die cheetah.

Hierdie area van die dieretuin is nou die gewildste kuierplek vir besoekers.

Thobela-Mabaso sê die versorging van die jong welpies verg toewyding.

“Ons moes baie oortyd werk want hulle moes elke twee uur eers aangemaakte babamelk kry en toe later koeimelk. Bietjie later kon hulle met hoender ‘n vaste dieet begin. Hulle is nou nogals lief vir ‘n stukie beesvleis ook,” vertel sy terwyl sy liefdevol na die drie onnutte kyk.

Nataniel Ntshweni het vir die drie hul kersmaal vir die dag, elk ‘n hoender, gegee waarna hulle besoekers met hul weergawe van die leeu-wêreldsokkerbeker vermaak het.

Die kerspartytjie het ook as 22ste-verjaarsdagpartytjie gedien vir een van die twee gorillas in die Pretoria-dieretuin.

Binga, een van twee gorillas in die Pretoria-dieretuin, het op 13 Desember sy 22ste verjaarsdag gevier en is verras met al sy geliefkoosde snoeperye in ‘n verjaarsdagkardoes. Foto: Elize Parker

 

Binga verjaar

Die gorillamannetjie, Binga, het in 2010 by die dieretuin gearriveer en word beskryf as “gereserveerd en skaam” deur die bewaringsbeampte, Mankwe Rababalela.

Vir sy verjaarsdag en verrykingsaktiwiteite is verskeie verjaarsdagkardoese met sy gunsteling snoepgoed in die kampie versteek.

Hy is deur sy kampiemaat, Bonsenga vergesel op hul soektog na die kardoese vol vrugte en Binga se spesiale verjaarsdagbederfie: Drinkjogurt!

“Hy is baie kalm en gereserveerd, maar kan nogals uitbundig raak wanneer hy sy jogurt en veral blaarslaai sien,” vertel Rababalela.

Ook gereed vir hul bederfie was die drie wilde honde in hul ruim kamp.

Hulle prooi is in ‘n boom opgehang, maar het skaars 30 sekondes gehang voordat hulle korte mette daarvan gemaak het.

Vir die drie Drommedaris-kamele is ‘n spieël versier met kersversierings tussen hul dagvoeding van blare en takke versteek.

Die drie Drommedaris-kamele by die Pretoria-dieretuin is vir ‘n kersviering verrras met ‘n versierde spieël tussen ‘n paar takke. Die verrassing is deel van die verrykingaktiwiteite wat personeel van die afdeling diere mee verrras om hul besig te hou.
Die Drommedaris-kamele het vir die kerspartytjie by die Pretoria-dieretuin ‘n spieël tussen hulle kerssnoeperye van balre en takke gevind. Die spieël maak deel uit van die diere se verrykingsaktiwiteite om hulle besig te hou. Foto:Elize Parker.

Die drie het na hul speletjies om die takke te verwyder, verbaas na hul eie weerkaatsings vir ‘n oomblik of wat gestaar en toe fluks aan die snoepgoed begin weglê.

Een van die bewaringsbeamptes wat met die kamele en alpacas werk, Kenneth Baloyi, sê kamele is nuuskierig.

“Ons wou hul reaksie toets op hierdie verrykingsaktwiteit wat wêreldwyd met diere gebruik word,” verduidelik Baloyi.

Laura le Roux van Pretoria-oos Foto:Elize Parker
Jack (links) en Emma le Roux van Pretoria-oos het die kerspartytjie vir verskeie van die diere by die Pretoria-dieretuin bygewoon.
Die kerspartytjie by die Pretoria-dieretuin is bygewoon deur: Vlnr: Hope Motaung, Nozalo Chauke, Mmuso Oganne en Mmatshepo Oganne. Foto: Elize Parker
Mahadi Tsubane en Boikanyo Tsubane van Pretoria-Noord Foto: Elize Parker
Koena Meso (links) en Bohlale van Mamelodi het die kerspartytjie by die Pretoria-dieretuin bygewoon. Foto: Elize Parker

LEES OOK: Petrolswendelaar se dae dalk getel na motoriste ‘n speletjie van haar verskynings maak

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button