Local news

Padprojek skenk afgekapte bome se takke en blare as voer en snuffelgoed vir dieretuin

'n Projek om bome te verwyder in Lynnwoodweg ter wille van buslane het tot die redding van die Pretoria Dieretuin se grasvreters gekom.

Inwoners rondom Lynnwoodweg tussen January Masilela-rylaan en Simon Vermootenweg, is ontsteld dat doringbome in die padreserwes en eilande al verwyder word.

Metrowoordvoerder Lindela Mashigo sê die bome word uitgekap en verwyder as deel van ’n projek van die A Re Yeng-lyn 2C om nuwe buslane te skep.

Woordvoerder vir A Re Yeng Line oor die Bus Rapid Transport-projek, Helen Alpino, het aan Rekord bevestig dat die bome verwyder word vir die opgradering van die pad en om dit breër te maak om nog buslane en stilhouplekke te kan skep.

Alpino verduidelik dat die projek se Fase 2C reeds vanjaar in Maart 2023 begin is, maar in Julie, weens die staking van munisipale werkers, voorlopig gestaak is.

Die werk is in middel-Oktober hervat. Daar word beplan om die volledige projek in 2025 te voltooi.

Die gedeelte waar die bome verwyder word in Lynnwoodweg is deel van die groter projek van R124-miljoen.

Talle koorsbome is afgekap en verwyder in Lynnwoodweg tussen January Masilela-rylaan en Simon Vermootenweg om voorsiening te maak vir die konstruksie van nuwe buslane.

Gemeenskapsweerstand teen die verwydering van die bome is groot. Alpino sê dat hulle wel met inligting wat deurgegee is die noodsaaklikheid daarvan kon verduidelik.

Sy meen dat iets goeds ook van die inwerkingstelling van die program om die bome af te kap kan kom.

“Ons kon met die Pretoria Dieretuin onderhandel dat ons van die takke en blare aan die herbivore as voer by die dieretuin kan laat aflaai. Van die trokke het reeds op 25 Oktober met vars ladings na die dieretuin vertrek,” verduidelik Alpino.

Alpino verduidelik dat ’n gewaardeerde karweier-kontrakteur van die konstruksiemaatskappy, G and H Transport, aangebied het om die takke en blare aan te ry na die Pretoria sowel as die Johannesburg dieretuine.

Werkers van ‘n vervoermaatskappy het van die vars takke en blare van die koorsbome opgelaai om aan die Pretoria Dieretuin se versoek te voldoen om dit vir die diere as voer en snuffelgoed in hul kampe te voorsien. Op die foto is: Duke, Louis en Obert Baloyi, Wilson Ndlovu en Helen Alpino. Bo staan Gift Chivhiko.

Die maatskappye sal gesamentelik nou elke twee weke voer aflaai by die instansies terwyl die projek voortgaan.

’n Woordvoerder van die maatskappy AECI, Sylvana Potgieter, sê dat die maatskappy instaan vir die vervoer- en ander onkoste omdat hulle graag die dieretuine wil help om die diere se kosnood aan te vul.

Een van die kuratore van die Pretoria Dieretuin, Carol Thobela, sê hulle het ’n versoek tot die padkonstruksiemaatskappy gerig omdat die dieretuin se verskillende dierespesies soos olifante, kameelperde, die wit renoster, die gorilla, groot en klein karnivore, plaasdiere, elande, gemsbok en swartwitpense sowel as klein bokspesies nie net voer nodig het nie maar ook takke en blare in hul kampe as snuffelgoed.

Elande in die Pretoria Dieretuin het gebaat by die voer wat vanaf Lynnwoodweg aangery is.

“Ons het meer nodig as wat ons tans kan voorsien. Die snuffelgoed word gebruik om natuurlike gedrag te stimuleer en dien ’n doel as verryking in hul kampe,” sê Thobela.

Sy het ook ’n beroep op die publiek gedoen om hulle te ondersteun om in hierdie behoefte te kan voorsien.

Thobela versoek dat die voer en snuffelgoed van die volgende spesies voorsien word: wit stinkhout (Celtis africana), doringboomspesies, karee (Rhus lancea,) bergkaree (Rhus leptodictya), jakaranda, klein bamboes, moerbeibome, hibiskus, wildepeer (Dombeya rotundifolia), buffelsdoring (Ziziphus mucronata), vlam-van-die-vlakte (Bauhinia galpini) en piesangplante.

André Nortjé van die maatskappy G and H Transport het vanoggend as trokdrywer handjie bygesit om voer en snuffelgoed na die Pretoria Dieretuin aan te ry.

Sy vra dat skenkings van voer en snuffelgoed skoon en vars moet wees, nie gemeng moet wees met nie-eetbare spesies nie, en vry van gifstowwe soos onkruiddoders, verf, petrol, diesel en olie.

– Meer inligting kan gevind word deur Phutti Maffodi by 012 339 2704 te skakel of te e-pos by P.maffodi@sanbi.org.za, of Carol Thobela-Mabaso te skakel by 012 339 2726 of te e-pos by c.thobela@sanbi.org.za

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button