EntertainmentLifestyleLocal news

Knap organiseerder vier nege jaar van binnestadvernuwing

Die middestad van Tshwane ondergaan tans vernuwing met die Herontdek Kerkplein-projek, maar die visie om voete na die middestad terug te lok het reeds in 2014 beslag gekry toe Mareli Wasssenaar 'n snuffelmark in Helen Josephstraat gevestig het.

Die skraal blondekop in haar gerieflike leerskoene en linnerok stap geduldig vooraan die groepie besoekers aan die middestad en wys haar geliefde geskiedkundige geboue een vir een uit.

Mareli Wassenaar ken hierdie strate, arkades en die sirkel vol geskiedkundige geboue rondom Kerkplein soos die palm van haar smal hande.

Sedert 2014 is die gebore Pretorianer besig om op haar stil, maar dinamiese manier die gesig van die middestad te verander.

Nou is sy ook deel van ’n span van die metro en eiendomsontwikkelaars met die Herontdek Kerkplein-vernuwingsprojek.

“Ek hou daarvan om mense bymekaar te bring om die groter, goeie sake van menswees te dien en saam vriendelik en vrolik te wees,” glimlag sy.

Sy stap die Market@TheSheds-ingang te Helen Josephstraat binne asof dit haar tweede tuiste is.

Eenkant onder kleurvolle wimpels stap besoekers op soek na iets te ete en te drinke. Jong paartjies gaan geselsend onder die koeltebome sit. Kleingoed verken die kamers van die kleurvolle springkasteel. ’n Troppie jong meisies is op pad na die skuur met die stalletjies waar kraampies met die nuutste juweliersware, klere en skoene op hul wag.

Die gemaklike manier waaroor Wassenaar oor die middestad gesels, kan jou laat glo sy het nog altyd in die sentrale gebiede van Pretoria gewoon.

Oorspronklik van Groenkloof, het die sosiale vernuwingspionier in 2014 die mark van nuuts af op die been gebring.

Omdat die stalletjies in verskeie skure op een perseel geleë is, het die vanselfsprekende naam Market@TheSheds gou op ’n banier gepryk.

Haar blik glip na die kosstalletjies in die buitelug waar verskillende kookkunste die talle smake van die wye verskeidenheid besoekers hier teen middagete bevredig.

Onder die bome en sambrele sit groepe, veral jong mense, reeds rustig aan die smul.

Mareli Wassenaar het in 2014 met ‘n paar uitstallers die Market@The Sheds afgeskop. Deesdae is daar meer as 50 uitstallers wanneer die mark aangebied word.

Binne-in die uitstallingsarea waar inkopiegangers aan die drentel tussen stalletjies is, speel ritmiese jazzmusiek.

Die atmosfeer is feestelik en ontspanne, ietwat anders as net buite die markingange, waar minibus-huurmotors jaag en voetgangers hulle na winkels haas.

“Dis lekker om te weet ons het ’n impak op die stad se vernuwing en skep ’n ruimte waar mense rustig kan word,” meen sy.

Wassenaar kyk met trots oor die buitelug- sowel as binne area van die mark.

Haar visie, stamina en organisasievernuf het gehelp om iets unieks tot stand te laat kom.

Vandeesmaand is die mark reeds nege jaar oud. Menige entrepreneur het hier hul tande gesny.

“Ek wou ’n plek skep waar mense voel hulle behoort, waar werk geskep kan word en entrepreneurs hul besighede kan groei,” sê sy.

Die gedagte aan die mark op die spesifieke perseel het by haar ontstaan toe sy nog as geleentheids- en funksie bestuurder op ’n aand vanuit ’n nabyliggende gebou na die perseel gekyk het as ’n moontlike area om ’n funksie aan te bied.

“Ek was nog altyd lief vir die middestad en skielik wou ek gestalte aan hierdie liefde gee.”

Radikgomo Jelclo se stalletjie met juwele, Kgodigadi Jewellery, is een van die gewildstes by die Market@The Sheds.

Kort daarna het sy ’n nie-winsgewende organisasie, The Capital Collective, in die lewe geroep.

Die organisasie fokus op binnestadvernuwing. Met hierdie doel het Wassenaar in 2014 die mark begin bedryf.

Vandag is daar plus 50 stalletjies, tree daar gereeld akoestiese en jazz-kunstenaars op in die ruimte en word popkuns-uitstallings aangebied.

“Vir die meer onbekende kunstenaars het die mark se verhoog ’n platform geword om gesien te word. Hulle voel as hulle hier opgetree het, kan hulle met selfvertroue hul vlerke verder sprei,” verduidelik Wassenaar.

Vir die mark se negejarige verjaarsdagvieringe het sy van die bekende en gewilde kunstenaars soos Justin Zulu gevra om op te tree.

Wassenaar is veral gerus daaroor dat in die markarea nog nooit ’n veiligheidsuitdaging of misdaadvoorval was nie.

Die sekuriteit is ’n prioriteit vir haar, veral ook omdat die mark se uitstallers veel te koop aanbied vir toeriste en jong middestad-inwoners.

Nog ’n faktor wat bydra tot die veiligheid in die area is ’n toegangsfooi wat by die twee goedbeheerde ingange gevra word. Kinders, bestuurders van Vespa-motorfietse en gewone fietsryers kry gratis toegang.

Handelsure is vanaf 11:00 tot 20:00. Die mark vind gewoonlik die eerste Saterdag van elke maand plaas, maar daar is ook spesiale geleentheidsmarkte.

Vir markgangers is daar gratis en veilige parkering by 216 Sisulustraat met direkte toegang tot die markareas. Besoekers kan ook by die Staatsteater parkeer, wat so 140m van die hoofingang van die mark te 381 Helen Josephstraat is.

“Die idee bly steeds om nog meer en meer voete terug na die middestad vir inkopies en ’n eiesoortige ervaring terug te lok. Dis net met vernuftige denke soos met die mark wat ons dit kan regkry om mense te oortuig hulle hoef nie bang te wees om die middestad te besoek nie.

“Ons moet ook werklik iets anders en buitengewoons kan aanbied om mense uit hul geriefsones te kry om so ’n besoek as ’n ervaring te sien waarop hulle nie kan uitmis nie,” sê sy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button