Local sportSchool sportSport

Bloubul Hoërskole vier suksesvolle jaar

Die Blou Bulle Hoërskole Rugbyvereniging het verlede week hulde gebring aan die spelers, afrigters, beamptes en spanne wat deur die afgelope seisoen presteer het op verskeie vlakke.

Met Covid wat uiteindelik geen effek meer op die voorbereiding van spanne gehad het nie, was die afgelope rugbyseisoen een van die suksesvolstes in baie jare vir die Blou Bulle se Hoërskole Rugbyvereniging.

Hierdie feit kon gevier word toe dié vereniging verlede week hul jaarlikse prysuitdeling- en kleurefunksie in die splinternuwe amfiteater op die terrein van Hoërskool Menlopark aangebied het.

Weens die krag-teen-krag beginsel waarvolgens hoërskole rugby verdeel is in die huidige bedeling, kan selfs skole wat werklik sukkel om rugby as spel aan die gang te hou, die geleentheid kry om te presteer. Só was daar byvoorbeeld spanne uit skole in afdelings vier en vyf van die amptelike ligas wat deur die vereniging vereer kon word. Dit sluit skole soos Pretoria Technical High School (Afdeling 5), Maragon Mooikloof en Hoërskool FH Odendaal (Afdeling 4) in.

Hoërskool Die Wilgers het vanjaar gewys dat hulle weer ’n opkomende krag is toe hulle Afdeling 3 van die ligas oorheers het deur die Stadsbeker in al vier die ouderdomsgroepe te wen.

Hoërskool Centurion (o.14 en o.15), HTS John Vorster (o.16) en Midstream Kollege (eerstes) het Afdeling 2 oorheers.

In die top vier afdelings van die SDC Noordvaal Cup (Beker; Plaat; Skild en Bowl), is daar nie sprake van ’n Stadsbeker nie en spanne speel direk in ’n groter Noordvaal liga. Hier was Hoërskool Oos-Moot se eerstespan naaswenners van die Skild-afdeling, terwyl Hoërskool Garsfontein se o.16 span ook naaswenners in die Beker-afdeling was.

Die Bloubul skole het algeheel vyf Noordvaal kampioene opgelewer. Hoërskool Centurion se o.15 span het Afdeling 2 gewen, terwyl Midstream College se eerstes in dieselfde afdeling (2) die kampioen was. Hoërskool Oos-Moot se o.14’s was die Skild-afdeling wenners en Hoërskool Zwartkop se o.15’s het die Plaat-afdeling gewen.

Hoërskool Garsfontein se eerstes het egter die Bloubul skole se vlag hoog gedra met hul titel as kampioen in die Beker-afdeling – die top liga noord van die Vaalrivier.

Verskeie individue is ook deur die Hoërskolevereniging vereer. Hieronder tel die vier seuns wat vanjaar vir drie verskillende nasionale skolespanne gespeel het. Hulle is Brooklyn Newman en Abri van der Westhuizen (albei Garsfontein), wat vir die SA Skole-A span uitgedraf het, asook Dimitré Erasmus (Garsfontein) en Janco Purchase (Affies) wat beide lede van die SA Skolespan was.

Purchase het ook vir die SA o.18 span in ’n internasionale reeks teen Engeland en Frankryk gespeel.

Die prestasies van die Blou Bulle se verskillende skolespanne, wat aan nasionale toernooie deelgeneem het, wys dat die keurders grootliks raakgevat het met hul keuses. Daar was agt sulke spanne wat aan toernooie op o.15; o.16; o.18 en o.19 vlakke deelgeneem het. Dit sluit in die Grant Khomoweek en Cravenweek. Die deelnemende Bloubul spanne het in vier gevalle die toernooi gewen, terwyl hulle in ’n verdere twee gevalle as naaswenners uit die stryd getree het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button