Local newsNews

Bomeskenking maak dat radiostasie liefdadigheid se wortels verdiep

Die burgemeester van Tshwane, Grootfm 90.5-luisteraars en die span van die radiostasie glo daaraan om nie sommer net 'n verskil te maak nie, maar 'n volhoubare verskil. Met die beginsel in gedagte is meer as 60 sitrusbome onlangs by welsynsorganisasies geplant.

Die GROOTfm 90.5-span het vir boomplantmaand meer as 60 gemengde sitrusbome aan liefdadigheidsorganisasies geskenk en self ’n paar onder leiding van Tshwane burgemeester, Cilliers Brink, geplant.

Luisteraars het die geleentheid gehad om kontak te maak met omroepers en kon met vrymoedigheid ’n versoek rig oor organisasies se behoefte aan vrugtebome.

Sanet Stofberg, projekkoördineerder van die stasie, sê die bome is uitgedeel aan Arise Restoration Centre, SA Cares for Life se Cullinan-plot 91, ‘n gemeenskapsleier in Soshanguve Tebogo Maredi, die Terugploeg-organisasie van die Atterbury Trust en aan Kungwini, ‘n veilige tuiste vir individue met gestremdhede.

“Die organisasies is gekies omdat hulle as bakens in hul gemeenskappe dien,” verduidelik Stofberg.

Volgens haar is Arise Restoration Centre ‘n veilige vesting vir mense wat deur die wêreld ingesluk is, en toe deur die wêreld veroordeel is. Tans is daar ongeveer 70 mans en vroue wat ARC hulle huis noem.

Sy verduidelik SA Cares for Life is begin deur ‘n vrou wat opnuut besef het wat die waarde van die lewe is. Sanet Fagan bemagtig gemeenskappe in Plastic View en in Cullinan, waar Plot 91 ’n veilige hawe en vesting geword het vir mense op die rand van die samelewing.

Tebogo Maredi is ’n verskilmaker in die gemeenskap van Soshanguve. Stofberg meld hy het reeds in 2021 luisteraars van die stasie se hart gesteel. Maredi gee gereeld toebroodjies vir meer as ‘n 100 kinders op hul pad skooltoe.

“Die stasie het betrokke geraak by Tebogo, en met behulp van Spar en BigBox Containers, kon die span hom toerus met ‘n BigBox ‘container’ en boksvrieskas, wat sy kosvoorsiening vergemaklik,” vertel Stofberg.

Sy wys daarop dat die Atterbury Trust se Terugploeg ’n uitbreiding van die trust se bedrywighede is.

“Terugploeg is in ’n gebou waar donateurs die geleentheid kry om vars vleis, vrugte en groente af te laai. Hierdie produkte word dan aan 115 goedgekeurde organisasies versprei.”

Kungwini Welfare Organisation is ’n organisasie wat omsien na mense met gestremdhede. Hulle missie is om om te sien na mense wat kwesbaar is, en om hul lewenskwaliteit te verbeter.

Stofberg glo daaraan die stasie en luisteraars moet poog om ’n volhoubare verskil te maak.

“Daar is ‘n waardigheid aan die mensdom wat herstel moet word. En elke mens wat deur die wêreld ingesluk en toe uitgespoeg en veroordeel is, moet hulle waardigheid opnuut besef en beleef. Laasgenoemde is ons almal se verantwoordelikheid.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button