Local sportSchool sportSport

Sensasionele jong atleet droom groot

Een van die mees belowende jong atlete in Suid-Afrika, wat atletiekliefhebbers in vervoering het met haar vertonings in die verspringput, het onlangs met Rekord oor haar prestasies en haar toekomsdrome gesels.

Sy is net 17 jaar oud, maar atletiek kenners glo reeds dat dié jong atleet van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) die potensiaal het om voor haar 21ste verjaardag die eerste vrou in Suid-Afrika te word wat verder as sewe meter sal spring.

Ons praat natuurlik van Timeke Coetzee, wat vanjaar die atletiek-wêreld se aandag behoorlik getrek het met haar prestasies. Nie net is sy in Mei by die Junior Afrika Atletiekkampioenskap as die kontinent se beste o.18 verspringer gekroon nie, maar vroeër in die seisoen het sy ook ’n nasionale rekord gebreek wat vir langer as twee dekades op die rekordboeke gepryk het.

Op die Curro Podium Atletiekbyeenkoms in Februarie vanjaar het Coetzee die Suid-Afrikaanse o.18 verspring rekord (6,37m), wat in 2000 deur Delia Visser opgestel is, met ’n volle 16cm na 6,53m verbeter. Dít alles terwyl sy eintlik nog ’n o.17 atleet is.

Tydens die Pretoria A-bond interhoër vanjaar het Coetzee twee rekords laat spat. Sy het die verspring met ’n rekord afstand van 6,52m gewen. Dit was 63cm verder as die vorige rekord van 5,89m. Daarna het sy boonop die driesprong item in nóg ’n nuwe A-bond rekord (12,43m) gewen, terwyl sy haar veelsydigheid gewys het met haar silwer medalje in die 200m in ’n tyd van 24,22s.

Timeke Coetzee in aksie in die kleure van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria.
Foto: Cecilia van Bers

Coetzee is 17 jaar gelde in Johannesburg gebore, waar sy ook op laerskool was. Toe die tyd aanbreek om hoërskool toe te gaan, het sy verskeie moontlikhede ondersoek.

“Die dag toe ek egter by Affies se hekke uitstap ná die ope dag, het ek vir my ouers gesê dís waar ek my hoërskoolloopbaan wil deurbring. Ek het net dadelik tuis gevoel,” het sy in ’n gesprek met Rekord vertel.

Sy is ook mal oor die koshuislewe by AHMP, waar haar sy reeds goeie vriende gemaak het wat aan haar die nodige afleiding gee om weg te breek van die druk van die atleiekbaan. Sy is ook lief vir musiek en speel self die ukulele, maar meestal net vir die pret saam met koshuismaats.

Coetzee is met goeie sportgene geseën, aangesien beide haar ouers naellopers was in hul jonger dae. Sy het aanvanklik op laerskool ook as naelloper uitgeblink, maar toe sy in 2018 as graad 6 dogter reeds 5,04m spring, het sy verspring ernstiger begin opneem.

Nou droom sy groot en is nie skaam om te erken dat sy alles in die stryd gaan werp om volgende jaar as 18-jarige vir die Olimpiese Spele in Parys te probeer kwalifiseer nie. Dan is daar ook nog die Junior Wêreldkampioenskap, wat in 2024 uitdagings gaan bied.

“Ek het vanjaar te vroeg my beste vorm bereik en ons (sy en haar afrigter, Leandri Willis-Rabie) wil volgende jaar beter beplan om later in die seisoen daarby uit te kom”, het sy haar strategie vir 2024 opgesom.

Dan is daar natuurlik daardie nasionale senior verspring rekord van Karin May, wat op 6,93 staan – slegs 40cm verder as dié 17-jarige se persoonlike beste. Vir die meeste kenners is die vraag nie òf sy dié rekord gaan verbeter nie, maar wánneer.

Na skool wil Coetzee in Amerika gaan studeer, waar die moontlikhede en geleenthede vir atlete groot is.

Een ding is seker – as die beserings wegbly, gaan die atletiek-wêreld nog kennis neem van hierdie vriendelike Affie. Sy is ’n harde werker met haar voete plat op die aarde, maar sy skroom ook nie om groot te droom nie. Dít is die formule waardeur supersterre gemaak word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button