Community galleriesGalleriesLocal newsNewsNews galleries

Honderde groet polisie-offisier

Sowat 1000 mense het onlangs bymekaar gekom om hulde te bring aan adjudant offisier Lourie van der Sluijs.

Honderde mense het Woensdag hul laaste eer betoon aan polisie-offisier Lourie van der Sluijs, wat verlede week in ‘n motorfietsongeluk in Villieria oorlede is.

Na sy begrafnis in die Heatherdale-begraafplaas is ‘n gedenkdiens gehou in die Gereformeerde Kerk Oos Moot, wat stampvol was. Nog mense het in ‘n ekstra saal en twee tente plek ingeneem.

Verskeie lede van die SA Polisiediens en werknemers van Kilnerparksekuriteit het die diens bygewoon.

Die begrafnisbrief het onder meer gesê: “Lourie het geglo en geweet Christus het vir sy sondes gesterf. Hy het geweet Sy genade alleen is genoeg. Omdat hy ‘n polisieman was, was hy altyd gereed om na God te gaan. Daarin vind ons rus en vrede. Ons dank God vir die besondere en liewe man, pa, broer en vriend wat hy vir 42 jaar aan ons gegee het.”

Onder diensgangers wat ‘n paar woorde gesê het, was Van der Sluijs se jarelange vriend Klaas van der Kooi, en die Villieria-polisie se bevelvoerder, Kolonel Gawie Alberts.

Alberts het ‘n huldeblyk, opgedra deur Kaptein Michelle Doubell, voorgelees tydens die diens.

“Lourie was die betroubaarste kollega om aan jou sy te hê. Jy was altyd bereid om te help, as mens op jou knoppie gedruk het was jy daar. Jy was pligsgetrou en altyd bereid om die ekstra myl te loop. Jy het soms die wind van voor gekry, maar dit het nie jou entoesiasme gedemp nie.”

Die adjudant-offisier het Donderdag met sy motorfiets teen ‘n motor gebots op die hoek van 27ste Laan en Terblanchestraat in Villieria.

Die gemeenskap het ook Sondagaand vir hom ‘n kersligbyeenkoms en kranslegging by die ongelukstoneel gereël.

Van der Sluijs word oorleef deur sy vrou Belinda en twee kinders Lourinda (13) en Gerrit (11).

Vir gratis nuusflitse en gemeenskapsnuus, besoek ons webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button