Community galleriesGalleriesLocal newsNewsNews galleries

Tannie se motorfiets-droom word waar

'n Barmhartige Samaritaan het 'n bejaarde vrou van die Moot se droom verwesenlik om op 'n motorfiets te ry.

‘n Motorfiets wou die 89-jarige Joey de Lange van die Moot nog altyd ry.

Maar hoe gemaak as ‘n mens nie meer behoorlik kan sien nie en afhanklik is van ander?

‘n Vriendin en mede-inwoner van Jakaranda Park aftree-oord, Francis van Zyl, het besluit om in te gryp.

“Sy het altyd gesê dat sy graag weer op ‘n motorfiets wil ry, maar elke keer as ek dit wou reël het sy nee gesê. Toe reël ons ‘n pretrit vir haar as ‘n verrassing voor haar verhuising na ‘n tehuis vir bejaardes in Kilnerpark.”

Die man wat alles moontlik gemaak het, is Chris Thirion van Pretoria Tuine. Hy het aangebied om De lange op ‘n rit te neem met sy Harley Davidson-motorfiets.

Hy het verlede week in volle mondering by die aftree-oord opgedaag om De Lange se droom waar te laat word.

“Dit was een van die belangrike punte op haar ‘bucket list’ en ek is bly dat ek kon help daarmee,” sê Thirion.

“Dit was nogal pret. Ek het nog nooit iemand gehad wat my so styf vashou nie,” het hy gelag.

Van Zyl sê De Lange het die rit gate uit geniet en dit was die onderwerp van vele gesprekke.

“Ons wil baie dankie sê aan Chris, dat hy soveel vreugde vir die 89-jarige tante besorg het. Chris, jy het bewys dat motorfietsryers ook omgee vir ouer mense en ons sal dit vir altyd onthou,” sê Van Zyl.

Vir gratis gemeenskapsnuus in jou area, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

‘Like’ ons Facebook blad en volg ons op Twitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button