Community galleriesGalleries

GALLERY: Mathys sing geld los vir Pta-gestremdes

Die gehoor het gerol van die lag.

Sanger Mathys Roets het Pretoria se mense onlangs behoorlik bekoor ten bate van ’n selfhulpsentrum vir paraplieë en kwadruplieë.

Hy is al jare vriende met Huis Remme-Los sedert die motorfiets-ongeluk wat hom die gebruik van sy bene gekos het.

Die Atterbury-teater in Pretoria-Oos was gepak met konsertgangers wat die geleentheid kom ondersteun het.

Roets het met sy diverse stem die verhoor vermaak met liedjies van Koos du Plessis, Leonard Cohen en goue oues van kunstenaars soos Neil Diamond.

LEES OOK: Arno Carstens rocks Atterbury theater

Tussendeur het hy die gehoor laat rol van die lag met staaltjies en grappies, gelewer met sy sonderlinge sin vir humor.

Tydens pouse is daar ’n raffle gehou, met alle kaartjieverkope ook ten bate Huis-Remmelos.

Huis Remme-Los is gestig deur kwadruplieë vir kwadruplieë.

Volgens Piet de Wit, voorsitter van HR en self ’n kwadrupleeg, word jong gestremdes dikwels in ouetehuise geplaas vir versorging – uiteraard nie die ideale oplossing nie.

Die tehuis het sewe inwoners en 11 helpers en is onder selfbestuur. Elke inwoner help om die huis te onderhou.

Die grootste struikelblok vir sulke tehuise is ’n gebrek aan staatsubsidies.

Huis Remme-Los is dus grootliks afhanklik van geld-insamelings en skenkings.

“Funksies soos hierdie help ons baie, veral om ons helpers te betaal,” se De Wit.

“Hulle is ons hande en ons voete. Sonder hulle kan ons nie in die oggende in ons rolstoele kom nie. Ons kan nie in die aand in die bed kom nie. Ons kan nie deur die dag winkels toe gaan en ons werkies doen wat ons moet doen nie.”

Huis Remme-Los het groot ondersteuners in mense soos Joan Borstlap en haar Dining Angels: Estelle Buchler, Barbara Claassen, Fiona Senekal, Aniki Schelin, Elsana du Toit, Anke van Niekerk, Louise de Ru en Daleen Basson.

Borstlap is na jare se betrokkenheid by liefdadigheid deur vriende aangespoor om haar eie inisiatief te begin.

“Mense wil dikwels iets doen om ander te help, maar weet nie waar om te begin nie,” sê Borstlap.

“Dining Angels is ’n groep vriendinne wat maandeliks byeenkom en projekte beplan om vir Huis Remme-Los fondse en ander benodighede in te samel.”

Dining Angels maak geen wins uit enige van hierdie projekte nie – dis vir mhulle ’n roeping om ’n verskil te probeer maak.

“Dis so lekker om een keer ’n maand jou vriendinne te sien, ’n raffle op die tafel te sit en te weet dat die geld wat ons insamel aan die einde van dag iemand se lewe makliker gaan maak.”

Borstlap sê die Dining Angels het ’n stewige netwerk van mense rondom hulle. .

Sy sê sy is dikwels oorstelp oor hoe bereidwillig mense is om te help met pryse, skenkings en borgskappe vir Huis Remme-Los se fondsinsamelingsfunksies en -projekte.

“Ons is ’n voertuig waardeur mense ‘n geleentheid kry om ander te help en ’n verskil te maak.”

Sy is aan Huis Remme-Los voorgestel deur Tian van den Berg en Louis Greyling, wat ook jarelange ondersteuners van die tehuis is en gereeld gholfdae en optredes by die Atterbury-teater reël.

“Remme-Los het onmiddelik in ons harte ingerol,” sê Borstlap.

“Ons het dadelik besluit on ‘n bydrae te maak om hul lewens makliker te maak.

Die tehuis het ook ’n lojaliteitskaartprojek geloods, wat onder meer afslag op lugtyd en elektrisiteitsaankope bied.

Die volgende funksie by die Atterbury-teater ten bate van Huis Remme-Los is op 6 Maart.

LEES OOK: UPDATE: Social media Tributes for legendary Jazz musician

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button