Local newsNews

Scheppel se verwerkings speel beslis nie tweede viool nie

Talentvolle en energieke rockviolis Scheppel vermaak gehore al sedert 2008 met sy vermaaklike vertonings en vernuftige verwerkings van klassieke werke en gewilde rockliedjies.

Wanneer ’n vernuftige klassieke violis sy binne-rocker vrylaat en gewilde Afrikaanse liedjies sowel as bekende klassieke werke met ’n glimlag en ’n swiepslag voor ’n waarderende gehoor op ’n elektriese viool speel, kan jy vuurwerke verwag.

Dit was ook nie anders nie met die onlangse vertoning van Scheppel en sy orkes by Zappas in Murrayfield nie.

Hierdie musikant van Lynnwood weet hoe om sy gehoor na ’n onverwagte en verrassende plek in talle musiekgenres te neem.

Dit terwyl hy soos ’n stout seuntjie onderdeur sy lang kuif vir hul reaksie loer.

Geklee in ’n gemaklike swart hemp, denim en wit sneakers, vul die violis ’n spesifieke nis in Suid-Afrika.

Hy is een van ’n handjievol solo elektriese vioolspelers in Suid-Afrika wat foutloos van klassieke tot rock-musiek met soomlose oorgange kan aanpak.

Hoe dan anders? Hy het al vantevore saam met legendes soos die rockband Yes se Sir Rick Wakeman gespeel.

Scheppel het egter ook as dirigent met die Johannesburgse Simfonie-orkes en die Kaapstadse Filharmoniese orkes opgetree.

Die solo rockviolis, Scheppel, se album sal in Januarie 2024 verskyn.

Hy bevind hom sedert 2008 aan die kommersiële kant van die musiekbedryf.

Sedertdien het hy al meer as 3 500 vertonings aangebied op Suid-Afrikaanse en internasionale verhoë.

Hy het ’n beurs by professors Stefans Grove en Alexander Johnson gekry om komposisie en musiektegnologie aan die Universiteit van Pretoria te studeer.

Hy speel op ’n sogenaamde stilviool, ’n ander naam vir ’n elektriese viool. Sulke viole is, soos elektriese kitare, sonder ’n klankkas.

Syne is ’n Yamaha wat hy sy “werkesel” noem.

Dis maar sy tweede elektriese viool in 20 jaar. As hy na optredes gaan, is daar wel tuis ’n tradisionele houtviool.

Sy verwerkings van klassieke musiek sowel as Afrikaanse liedjies is verbeeldingryk gedoen en vol vernuftige vioolriffs.

Sy vertolking van Ricus Nel se meer nostalgiese kampvuurliedjie “Harde kole” het die gehoor luidkeels laat saamsing

Hy is ’n beweeglike musikant en gebruik alle bruikbare verhoogspasie.

Sy oogkontak met baskitaarspeler Jerry Grové maak perfekte harmonie moontlik.

Hy beweeg ook soos ’n troebadoer met ’n viool van ouds tussen die gehoor.

Voor jy jou kom kry, wip hy sommer al spelende met die viool teen sy ken, rats op ’n tafel tussen bierbottels en borde.

Tydens die akrobatiese toertjie verloor hy nie ’n enkele noot nie.

Met aangepaste klassieke musiek is daar dikwels die versoeking om van improvisasie weg te bly en getrou by die oorspronklike melodie te bly.

Nie met Scheppel nie. Hy bly die oorspronklike rock-rebel.

Hy vernuwe met flair die klank en ervaring van goue oues in elke genre.

In die begin gee sy energieke vertolking van die Amerikaanse rock orkes van die tagtigs, Survivor, se “The eye of the Tiger” die toon aan vir die res van die aand.

Sy bewonderaars strek oor vele ouderdomsgrense met millenniërs wat net so lekker hul sneakers laat tik-tik op die vloer as die ouer generasie.

Soos hy self gedurende sy vertoning kwytraak: “Daar is altyd een bewonderaar wat ’n Neil Diamond-liedjie wil hoor.”

Scheppel stel ook nie hierdie groupies teleur nie. Kort voor lank klink ’n koor van stemme op met hierdie immergroen gunsteling se oorbekende choruslyn.

Om die musiek van ouer komponiste in teenstelling te plaas met musikante soos Karen Zoid en Francois van Coke, is vir Scheppel so maklik soos om met sy strykstok onderstebo en agterstevoor op die elektriese viool te speel.

Musiek bruis in sy bloed. Sy ma en ouma, asook twee broers, speel almal óf viool óf klavier.

Hy het op vyfjarige ouderdom klavier begin speel.

As sewejarige het hy die strykstok vir die eerste keer behendig oor die snare begin trek.

Sy benadering tot musiek is emosioneel, maar sonder om presisie en tegniek te verloor.

Hy werk tans aan sy album met Universal Records en mik vir ’n vrystellingsdatum in Januarie 2024.

Sy eerste enkelsnit vir Universal “Thunderstruck” is in 2021 uitgereik.

Gee jy hom ’n vrye keuse, sal hy tans meesal musiek uit die tagtigerjare speel soos dié van die Eagles.

Hy sê self: “Die liedjies uit die tagtigerjare sal nooit uitsterf nie en sal altyd vars bly.”

Vertolkings van “Living on a prayer” en “Summer of 69” staan uit oor Scheppel se prettige verwerking daarvan.

Die hoogtepunt van die vertoning kom naby aan die einde wanneer hy rockmusiek se liefling, Meatloaf, se “I will do anything for love” speel.

Scheppel se verwerking van hierdie ikoniese lied wissel ’n vinnige pas met die meer stadige choruslyne met gemaklike oorgange af.

Sy repertoire sluit ook huidige treffers van Fatman, Appel en Bernice West in tot meer ernstige liedjies van Spoegwolf, Coenie de Villiers, Van Coke en Laurika Rauch.

Van Bach en Sinatra tot ACDC en Spoegwolf – veelsydige Scheppel sleur jou mee met sy spel en sy flambojante verhoogpersoonlikheid.

Kliek hier om na sy weergawe van “Thunderstruck” te luister –

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button