Local news

AfriForum nader Eskom wat Tshwane-metro se krag wil sny

Die burgerregteorganisasie voel dit is onregverdig om inwoners wat hulle rekenings betaal, se krag af te sny.

AfriForum het Dinsdag ’n brief aan Eskom gestuur waarin hulle versoek dat Eskom alternatiewe ondersoek om gelde vanaf die Tshwane-metro in te vorder eerder as om die krag af te sny.

Dit volg ná Eskom ’n kennisgewing uitgereik het waarin die Eskom dreig om die Tshwane-metro se krag af te sny.

Hierdie aksie kom nadat die metro versuim het om hul ooreenkoms met Eskom na te kom en hul maandelikse betaling te maak.

“Die metro het ’n agterstallige rekening van R1.6-miljard waarvan R68-miljoen reeds aan Eskom betaal is.

“Hoewel AfriForum verstaan dat daar ’n ooreenkoms tussen Eskom en die Tshwane-metro is vir die betaling van hierdie rekening, sal dit drastiese gevolge inhou vir die inwoners van Pretoria, wat wel elke maand getrou hul rekeninge betaal, indien die krag afgeskakel word.

“’n Geskil tussen staatsorganisasies is nie veronderstel om gemeenskappe skade te berokken nie,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

“AfriForum sal alle moontlike pogings aanwend om met Eskom en die Tshwane-metro in gesprek te tree oor moontlike alternatiewe wat nie die getroue belastingbetaler in die donker gaan laat nie.

“Dit is onregverdig om inwoners, wat hul rekeninge aan die munisipaliteit betaal, te straf weens die Tshwane-metro se versuim om nie hulle betalingsooreenkoms met Eskom na te kom nie,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Check Also
Close
Back to top button