Local sportSport

Suksesvolle ope dag voorspel groot seisoen vir stad se oudste rugbyklub

Pretoria Rugbyklub gaan steeds van krag tot krag en ná hul onlangse ope dag lyk dit of dié klub se maer jare vir eers verby is.

“Pretoria Rugbyklub het sy siel teruggevind.” Dít was die woorde van een van die “ou manne” van die klub wat by die onlangse ope dag van Pretoria Rugbyklub deel was van die groot fees waar die ou- en nuwe geslag van klubrugby vir die eerste keer werklik sosiaal saam kon verkeer.

Legendes van die Blou Bulle én Pretoria Rugbyklub, soos Thys Lourens, Wynie Strydom, Piet Pretorius en verskeie ander het dié dag saam met ’n groot groep van die nuwe geslag spelers, ondersteuners en borge van die klub gekuier om gereed te maak vir die nuwe seisoen en inligting oor die klub se toekomsplanne aan te hoor.

Verteenwoordigers van die Blou Bulle soos Willem Strauss (president), Jake White (direkter van rugby), Gert Smal (afrigter van die Curriebeker span) en dr. Eugene Hare (hoof uitvoerende beampte van die BBRU) was ook teenwoordig.

Ervare klubrugby manne soos Jaco Basson (voorsitter), prof Neels van Heerden (president) en Barend Kirsten (direkteur van afrigting) is deesdae in beheer van Pretoria Rugbyklub. Hulle het die afgelope paar jaar reuse werk gedoen om die klub weer op koers te kry, na ’n paar moeilike en selfs  dormante seisoene.

Pretoria is intussen verlede seisoen gepromoveer om terug te keer na die Carltonbeker liga, waar hulle vroeër jare ’n krag was. Hoewel die klub in 2021 sewende op die punteleer geëindig het, het Pretoria deeglik van hulself rekenskap gegee en stelselmatig gegroei.

Vanjaar sal dinge egter baie beter gaan, danksy die harde werk van die bestuur. Nuwe borge is gewerf en verskeie nuwe spelers is na Pretoria gelok. ’n Baie groot groep spelers wat by die Blou Bulle gekontrakteer is, is ook aan die klub toegewys en volgens ’n ooreenkoms met die Bulle se direkteur van rugby, Jake White,sal dié spelers vir die klub beskikbaar wees wanneer hulle nie by een van die unie se spanne betrokke is nie.

Daar is die afgelope jaar ook verskeie verbeterings aangebring op die terrein van Pretoria Rugbyklub en behalwe vir die Hoëprestasie afdeling, waar spelers op professionele wyse in ’n gimnasium en ander fasiliteiete voorberei kan word, is die klubhuis  se restaurant en kroegfasiliteite merkwaardig uitgebrei.

Dít gee aan Pretoria Rugbyklub ’n nuwe atmosfeer, wat inpas by die nuwe tendens waar rugbyklubs weer deel word van die rugbypubliek se sosiale lewens.

Sowat ’n week voor die opedag het die bestuur van Pretoria Rugbyklub ook hul unieke vennootskap bekendgemaak wat aangegaan is met die tegniese kollege, Sol-Tech. Volgens hierdie venootskap sal studente van Sol-Tech vanjaar by die klub betrokke wees en in die klub se kleure op die veld draf.

Intussen het die man in beheer van Jeugrugby by die klub, Riaan van Greunen, ook by die ope dag aangekondig dat Jeugrugby ná ’n onderbreking van twee seisoene weens Covid, ook vanjaar weer met groot erns sal voortgaan.

Die Pretoria Bulldogs, soos die Jeugklub by Pretoria Rugbyklub bekendstaan, sal binnekort weer hul bedrywighede voortsit en belangstellendes word versoek om hul sosiale media platforms dop te hou in hierdie verband. Van Greunen noem dié jeugklub die “mees revolusionêre jeug-rugbyklub in Suid-Afrika” en hy nooi belangstellende ouers van rugbyspelende kinders om met hulle in aanraking te kom en meer oor hul idees en visie vir die toekoms te leer.

Vir enige navrae oor Pretoria Rugbyklub, skakel Jaco Basson by 084-605-3731.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button