Local newsNews

Heerlike Kersfees geregte

Jou mond gaan water met die resepte!

Kerfees is ‘n tyd wanneer familie en vriende bymekaar kom. Dis ‘n tyd wanneer almal saam kuier om groot tafels met lekker kos. Ouma se skaapboud en ma se gebakte aartappels is altyd op die spyskaarte. Hier is vyf tradisionele Kerfees disse wat jy hierdie Kersfees moet probeer.

1. Gebakte mosterdtong 
Hierdie is altyd ‘n wenner. Vir sommige mense klink die idee van ‘n tong dalk grillerig, maar as jy dit op die regte manier gaarmaak sal jou gaste hulle vingers aflek.
Hierdie resep is genoeg vir ses mense.
Hier is wat jy nodig het:
30 ml olie
60 ml mosterdpoeier
125 ml suiker
2 ml sout
250 ml kookwater
250 ml mayonnaise
sap van 1 suurlemoen
125 ml wit druiwe-asyn
30 ml koekmeel
Twee gaar tonge, vel afgetrek en in skywe gesny.
125 ml sagte broodkrummels.
Voorverhit die oond tot 180 °C.

Sous: Meng die olie, mosterd, suiker en sout saam en klits die kookwater bietjie vir bietjie by. Klits die res van die bestanddele by.

Tong: Pak die tongskywe in ‘n oondvaste bak en giet die sous oor. Sprinkel die krummels oor en bak 45 minute in die oond tot die sous effens verdik het en die krummels goudbruin is.

2. Gemarineerde skaapboud in karringmelk en portsous
Mense sal sê ‘n Kerfees-ete is nie volmaak sonder ‘n lekker sagte skaapboud nie. Jy gaan een skaapboud benodig vir hierdie resep.
Karringmelkmarinade:
250ml karringmelk
125ml olyfolie
1 medium ui fyngekap
4 knoffelhuisies fyngedruk
1 eetlepel gekapte vars kruie
2-3 teelepels mosterdpoeier
2 eetlepel suurlemoensap
Sout en peper na smaak

Sous:

5 teelepels gekapte vars pietersielie

1 eetlepel aangemaakte mosterdpoeier
50ml kweperjellie of fyn appelkooskonfyt
50ml port
125ml room
2-3 teelepels koekmeelblom
Metode: Plaas die skaapboud in ‘n vlekvrye staal of glashouer.
Marinade:
Meng al die bestanddele van die marinade en giet bo oor.
Voorverhit die oond tot 160°C. Plaas boud in oondbraaipan. Gooi klein bietjie warm water in pan. Bedek met foelie en bak 40 minute vir elke 500g plus ‘n ekstra 40 minute. Maak die boud die laaste 30 minute oop om bruin te braai.

Sous:
Voeg ‘n bietjie water by die panvette in die oondpan en kook tot los. Voeg die res van die sousbestanddele behalwe die meel by en laat effens afkoel. Verdik sous met meel wat aangemaak is. Laat net weer goed kook en voeg by sous. Sit sous saam met boudvleis voor.

3. Varkboud met appels
Nie almal hou van vark nie, maar vir die vark liefhebbers is hierdie resep een vir die boeke.
Jy gaan twee kilogram varkboud, wat ontbeen is nodig hê.
1 knoffelhuisie, in skywe gesny
Vars gekapte saliesout
Twee rooi appels
30ml botter
30ml suiker
15ml koekmeelblom
300ml droë appelwyn
Metode:
Voorverhit die oond tot 220 C. Bind vleis in ‘n rol en sny kepies in vel. Stop kepies met knoffel en salie en vryf sout oor die boud. Plaas in die oond en rooster vir 10 minute. Verlaag die hitte na 190 C en bak 20 minute per 450 gram plus nog 10 minute. Ontkern die appels en sny in skywe. Smelt botter in braaipan en bruin appels tot bruin. Voeg die suiker by terwyl die appels nog braai. Plaas die appels in oondpan rondom die vleis, vir die laaste 30 minute baktyd. Verwyder vleis en appels uit pan en plaas in lou-oond. Giet vet van pansap af, roer meelblom by en verhit tot kookpunt. Voeg die appelwyn by. Dien appelwynsous op saam met die varkvleis.

4. Kalkoen in die Weber
Wie hou nou nie van ‘n lekker sappige stukkie kalkoen nie? Hy is perfek as die velletjie so krakerig is saam met ‘n lekker glasie wyn. Een groot kalkoen is nodig vir hierdie resep.
500g sagte botter
‘n Hand vol tiemie
Roosmaryn
Pietersielie, gekap
5 knoffelhuisies, gekap
Sap en skil van 2 suurlemoene
3 heel suurlemoene, gehalveer
500 ml hoenderaftreksel
6 rooi-uie, in kwarte gesny
4 knoffelknolle, in breedte gehalveer
Metode:
Meng botter, kruie, gekapte knoffel en sap en skil van suurlemoen. Maak vel op kalkoen se bors los met jou vingerpunte. Druk helfte van bottermengsel onder vel in en versprei eweredig. Sit halwe suurlemoene in kalkoen se karkas en bind bene stewig aan mekaar vas met kombuistou. Sit die kalkoen in ‘n oondpan wat in ‘n Weber sal pas en smeer die res van die bottermengsel oor. Gooi die aftreksel, rooi-uie en halwe knoffelknolle in die pan. Sit dit in die Weber met medium-warm kole en plaas die deksel bo-op. Die gaatjies van die Weber moet half oop wees, anders smoor die kole dood.

Laat dit stadig bak vir 3 ure. Maak elke uur oop en skep van die pansouse oor kalkoen. Jy sal ook ‘n aparte vuur moet maak vir ekstra kole om elke uur die kole in die Weber aan te vul. Om te kyk of kalkoen gaar is, druk ‘n mes in op die dikste deel van die vleis by die dye. Hou in vir 15 sekondes. As die mes se punt baie warm is en die sap wat uitloop helder is, is die kalkoen gaar. Haal uit roosterpan en plaas op opdienbord.

5. Malvatert
Elke Suid Afrikaner moes al tenminste een keer in hul lewe hierdie poeding geëet het. Hy is altyd ‘n treffer en mens maak maar altyd ‘n plekkie daarvoor al is jy trommeldik.
Vulsel:
1 blik kondensmelk
2 houertjies vars room
750g ‘marshmallows’ in kwarte gesny
1 pak kersies in kwarte gesny
1/2 koppie suurlemoensap
1 blikkie fyn pynapples, gooi deur ‘n sif om ergste vloeistof te dreineer

Metode:
Meng die kondensmelk met die suurlemoensap. Voeg dan die ‘marshmallows’ en kersies by. Voeg die pynappel by. Klits die room goed styf en meng by.

Gooi mengsel in bak en verkoel.

Vir gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

‘Like’ ons Facebook blad en volg ons op Twitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button