Local newsNews

Maak gereed vir ‘n asemrowende Kersfeeskonsert

Die konsert word gratis aangebied, maar PretoriaFM, Rekord en Loftus Park vra elke konsertganger om nie-bederfbare kos saam te bring vir liefdadigheid.

Kersfees is vir meeste mense ’n besonderse tyd van die jaar. Bome word versier, Kersfeesliggies word in en om die huis gehang en kinders skryf briefies vir Kersfeesvader om daardie spesiale geskenk onder die boom te kry.

PretoriaFM, in samewerking met Loftus Park-winkelsentrum en Rekord-koerant, gaan vanjaar Kersfees ekstra spesiaal maak met die aanbieding van een van die grootste Kersfeeskonserte in Pretoria.

LEES OOK: Heerlike Kersfees geregte

Op 28 November om 19:00 gaan Loftus Park-winkselsentrum (reg langs Loftus Versveld) gasheer speel vir hierdie besonderse konsert wat met trots aangebied word deur PretoriaFM. Die gemeenskap lê na aan die hart van dié gemeenskapsradiostasie en sy personeel het besluit om met Kersfees 2018 terug te gee aan minderbevoorregtes.

Die konsert word gratis aangebied maar PretoriaFM, Rekord en Loftus Park vra elke konsertganger om nie-bederfbare kos saam te bring as toegang en in die winkeltrollies te plaas wat geskenk gaan word vir die Van Rensburg Ouetehuis en die Laerskool Westerlig in Danville.

Die kunstenaars wat gaan optree sluit in van ons land se bekendste sangers soos Nádine, Leah, Adam, André Schwartz, Johan Anker, Die Lieflinge, Cordelia, Tussen Sterre, Lizandra Winter en Leon Gropp.

LEES OOK: Wie is Kersvader nou eintlik?

Daar gaan Kersfeesliedjies gesing word en die gehoor gaan die geleentheid kry om lekker saam te sing en in die Kersfees luim te kom terwyl hulle terselfdertyd die geleentheid kry om te gee vir die behoeftiges van ons stad.

“Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein die bydrae is nie, ons gaan probeer om soveel nie-bederfbare kos in te samel as wat ons kan om vir hierdie organisasies te skenk wat dit bitter nodig het oor Kersfees,” sê Hennie Koortzen, die uitvoerende hoof van PretoriaFM.

Volgens Koortzen is enige nie-bederfbare kos welkom wat insluit koffie, suiker, rys, bone, blikkies kos, tee en enige ander voedsel wat vir ’n tydperk kan hou en in pakkies opgedeel kan word.

Luisteraars en lesers word uitgenooi om hulle piekniekkomberse en stoele te bring en maar vroeg hulle sitplekke in te neem om teleurstelling te voorkom.

Vir navrae, kontak gerus vir Riaan Grobler by PretoriaFM by riaan@pretoriafm.co.za of 012-543-0120.

André Schwartz.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button