Local newsNews

Wie is Kersvader nou eintlik?

Dis Kerstyd, maar wat is nou regtig die storie agter Kersvader?

Nog voor die skole sluit, begin Kersvader al sy spore laat in winkelsentrums. Oral is gekleurde kersballe en stringe liggies.

Kinders begin al in November briefies aan Kersvader skryf met versoeke vir Kersgeskenke.

Review het Kersvader raakgeloop en hom gevra om met ons te gesels.

“Almal dink ek bly in die Noordpool, en dit is waar, maar my direkte adres is Ysstraat 15, Sneeuvlokkie Vallei, as iemand wil kom kuier,” lag Kersvader.

Hy lag diep uit sy maag toe ons hom vra hoe oud hy nou eintlik is en vertel hy is as Kersvader gebore en is nou al te oud om te onhou hoe oud hy is.

Hy vertel dat hy 11 elfies het wat hom help om geskenke te maak en sy vrou, Kersmoeder, is aan die stuur van die werkswinkel.

“Hulle het eienaardige name soos Pinkie, Duimpie, Stompie en Fillavlooi. Ek moet hulle onder beheer hou,” vertel Kersmoeder met ’n sagte glimlag.

Kersvader sê sy span takbokke, waarvan Roedolf met sy rooi neus die voorbok is, is baie sterk en hulle het baie gesond geëet deur die jaar.

“Hulle is vinnige bokke en dit, saam met fyn beplanning tussen my en Kersmoeder, kry ek en Roedolf-hulle dit reg om al die kinders in die wêreld se geskenke betyds af te lewer,” sê Kersvader trots.

“Die kinders van die wêreld is my en Kersmoeder se kinders. Ek sal nooit kan aftree nie, die werk is te lekker. Ek glo elke kind was ten minste een keer ’n jaar soet en daarom kry almal geskenke. Dalk spoor dit die minder soet kinders aan om soeter te raak,” skerts hy.

Kersmoeder vertel sy reis nie saam met Kersvader rond nie want sy het hoogtevrees en iemand moet na die elfies omsien.

Deur die jaar lees Kersvader baie koerant en maak lysies van wat om vir kinders te gee. Die snaakste versoek wat hy nog gekry het, vertel hy, was iemand wat ’n houtlepel vir Kersfees wou hê.

“My boodskap aan almal is om asseblief vir julle honde te vertel ek kom, want hulle blaf vreeslik en die groot honde hap soms na my.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button