Staan saam die Bokke!

Wys jou ondersteuning vir Siya, Eben en die res van die Bokke deur aan of ons Caxton4Bokke-uitdaging deel te neem, 'n Bok-trui op Vrydae te dra, met Springbok-horings rond te loop of selfs 'n onderbroek te dra met die SA-vlag op… net soos Faf.

• Die redakteur skryf:

Dames, ek wil julle nie verkeerd opvryf nie – ek weet gelukkig van beter – maar ons manne wag die afgelope vier jaar vir hierdie oomblik – die 2023 Rugby Wêreldbeker!

Op 8 September is die lang wag uiteindelik verby en daardie einste Vrydag begin die aksie met seker dié grootste kragmeting van die eerste rondte – die Hane (Frankryk) teen die All Blacks (Nieu-Seeland) om 21:15 … en ja, dit is nodig om daarna te kyk want ons Suid-Afrikaners moet weet hoe goed ons opponente is en ook vir Superbru-redes.

Dit is die enigste wedstryd vir die dag maar die Saterdag daarna (9 September) is daar vier kragmetings wat reeds 13:00 begin tussen Italië en SA se buurman, Namibië gevolg deur Ierland en Romanië om 15:30; Australië en Georgië om 18:00 en die Rose (Engeland) teen Los Pumas (Argentinië). As ons julle girls asseblief mag vra om ons enige opdragte te gee voor dan sal ons dit hoogs waardeer – dit sluit in grassny, verfwerk, foto’s hang, ens. Julle is ook baie welkom om jul hare te gaan sny of naels te doen want ons wil ten volle fokus wees op die takies vir daardie klompie ure.

Die Bokke speel hul eerste wedstryd eers Sondag, 10 September teen Skotland om 17:45. Die volle program van wedstryde is beskikbaar by SuperSport of hou die Herald se 8 September uitgawes dop vir ‘n spesiale uitreksel. Jy kan dit sommer in die badkamer, teen die yskas of in die kombuis opsit.

Wys jou ondersteuning vir Siya, Eben en die res van die Bokke deur aan of ons Caxton4Bokke-uitdaging deel te neem, ‘n Bok-trui op Vrydae te dra, met Springbok-horings rond te loop of selfs ‘n onderbroek te dra met die SA-vlag op… net soos Faf.

Die Caxton-uitdaging is waar skole mekaar moet uitdaag met ‘n oorlogskreet op TikTok met die hashtags #StrongerTogether en #Caxton4Bokke. Stuur dan jou unieke foto met ‘n Springbok-trui aan, horings op jou kop of ‘Faf se look’ na randfonteinherald@caxton.co.za.

Sterkte Bokke en bring weer bietjie hoop soos in 2019!

Exit mobile version