OPINIE: Wat is ‘n vrou?

Met die oog op Vrouemaand het die redakteur gedink dit is die perfekte geleentheid om van 'n man se perspektief te verduidelik wat 'n vrou is.

• Die redakteur skryf:

Ek het onlangs op my rug geval en was omtrent geskok toe ek uitvind daar is mense in sekere dele van die wêreld wat nie weet wat ‘n vrou is nie. Ek wil nie onthul waaroor die gesprek presies gegaan het nie, maar ek dink dit is baie duidelik; hoe weet iemand nie wat ‘n vrou is nie?

Met die oog op Vrouemaand het ek gedink dit is die perfekte geleentheid om hieroor te gesels en van ‘n man se perspektief te verduidelik wat ‘n vrou is.

Natuurlik is ‘n vrou ‘n volwasse vrouspersoon met sekere organe, maar hulle is meer as dit …

1. ‘n Vrou is ‘n pragtige skepping en een waarsonder ons mans nie kan lewe nie
2. ‘n Vrou is mooi van binne en buite – ek verwys spesifiek na hul natuurlike, sagte geaardheid en goeie omgee harte en natuurlik ook die uiterlike
3. Saam met hulle is ons (mans) volmaak – ‘n goeie voorbeeld is kinders. ‘n Man kan bv nie natuurlik self kinders maak nie, hy kort iemand en dit is ‘n vrou. Hoe wil jy Saterdae saam jou seun braai en pa-en seun krieketoggende geniet sonder jou kind wat ‘n vrou moes dra vir nege maande?
4. ‘n Vrou kan pyn hanteer. Hier is twee voorbeelde, ek verwys natuurlik na die ‘tyd’ asook om kinders in die wêreld te bring. Oor die tyd van die maand bv het ek al manne gesien wat ‘n simulasie gedoen het met ‘n masjien op hul mae. Die pynvlak was gemeet tussen een tot 10 en ‘n paar manne het al by ses of sewe besluit nee wat, die pyn is te erg. Met geboorte is dit natuurlik slegs ‘n vrou wat weet waarvan ek praat. Die ‘pyn en leiding’ soos die goeie akteur Marga van Rooy beter bekend as Worsie se ma Ella dit altyd gestel het.
5. ‘n Vrou het ‘n geheue soos ‘n olifant. Net ‘n vrou weet presies wat Maandag drie weke gelede gebeur het. Hulle weet ook partykeer wat volgende gaan gebeur
6. ‘n Vrou het ‘n goeie natuurdrif of natuurlike instink. Ons manne sal byvoorbeeld kattekwaad aanjaag en nie weet ‘wanneer om op te hou nie’. Net ‘n vrou sal ons kan oorreed dat iets nie ‘n goeie idee is nie of dat genoeg nou genoeg is
7. ‘n Vrou weet alles … en ek bedoel alles. Skool is maar net ‘n formaliteit. Hulle weet bv hoe om ‘n deur reg te maak, presies hoe skeef die tafel staan en teen watter hoek asook wat om te doen as iets fout is met die kar
8. Mans dra die broek, maar ‘n vrou besluit wanneer ons die broek moet dra
9. ‘n Vrou het ‘n woordeskat wat mans nie het nie – as ek my nie misgis nie praat ‘n vrou twee keer soveel as mans. En wanneer hulle nie praat nie, moet jy hardloop want iets is fout
10. Die woord ‘OK’ is alles behalwe OK, hier moet ons manne gewoonlik kop krap oor wat die probleem kan wees, min weet ons dit iets is wat ons jare gelede gedoen het

My punt is, ‘n vrou is spesiaal. Julle hou ons op ons tone en ons kan nie sonder julle nie.

Ek wil uit die diepte van my hart vir elke mamma, ouma, suster, vriendin en meisie dankie sê vir wie en wat julle is. Ons sal julle oppas en beskerm, belowe!

Groete, ‘n man.

Exit mobile version