Entertainment

KYK: Die Teelepeltjies reik hul 9e album uit

Die Teelepeltjies, 'n welbekende naam in Wes-Rand-kringe, het onlangs hul negende album, Erfenis, vrygestel.

Met hul jongste album, Erfenis, maak Die Teelepeltjies (wat welbekend is in Wes-Rand-kringe) seker dat hulle jou weer aan jou herkoms herinner met twaalf varsgebakte Boeremusiektreffers saam op een album.

Lees ook: Die Teelepeltjies slaggereed vir nuwe album 

Die groep gebruik hul diverse en kleurryke klank om boeremusiek weer terug te sit op die radiogolwe. Hulle vars en moderne aanslag sal jou sommer opnuut verlief maak op jou Erfenis en die boeremusiekgenre. Die groep bestaan uit Paul Bester, Johnny Volbrecht, Ziaan Hattingh en Christiaan Ras. Hulle unieke klank word verder op hierdie album versterk deur puik konsertina- en banjospel deur Regardt de Bruin en Ernie Bates as gaskunstenaars.

Lees ook: Flying the music flag high in a mining town

“Dis ’n album wat jou gaan terugneem in tyd en ou herinneringe by jou gaan wakker maak. Jy gaan verlang na mense van vroeër in jou lewe, maar terselfdetyd gaan dit jou voete aan die jeuk kry om te wil dans,” het Christiaan gesê.

Die Teelepeltjies het reeds in 1989 ontstaan toe Christiaan se pa hom geleer het hoe om Boeremusiek te maak. Sy broer, wat die dromme gespeel het, het toe nog nie ’n dromstel van sy eie gehad nie en moes met twee teelepels op ’ n verfblik speel. Vandaar die Die Teelepeltjies.

• KYK:

Erfenis is die groep se negende album en is vervaardig deur Kobie Koen van Vonk Musiek, terwyl Ernie Bates die opname behartig het. Elke lied is goed deurdink en die uitvoering is haarfyn beplan. Dit gee aan elke lied genoeg meriete om op sy eie te kan staan.

Boeremusiekliefhebbers kan uitsien na ’ n paar bekende treffers soos die Kalfiewals en Suikerbossie, maar kan ook uitsien daarna om verras te word met ‘n FAK-keurspel, Willem se Vastrap en Vyejam Seties. Die groep beplan om ook vier nuwe musiekvideos vir die album uit te reik.

Tussen die vier lede is daar oorgenoeg variasie in instrumentasie en talent om jou ore vir ure lank te prikkel. Daar is iets vir elkeen om te geniet: ritmekitaar, melodika, klawerbord, dromme, trekklavier, banjo en baskitaar, om net ’ n paar instrumente te noem.

Met Erfenis gaan Die Teelepeltjies sonder twyfel sommer in die nabye toekoms die dansvloere by talle feestelikhede aan die gang kry. Soos die reuk van varsgebakte brood jou honger maak, sal hierdie album jou lus maak en laat vra vir nog.

Related Articles

Back to top button