VIDEO: Teelepeltjies in rep en roer oor nuwe album

'Die jong Teelepeltjies het voor slaghuise en groentewinkels begin optree en ek dink baie mense aan die Wesrand kan dit nog onthou'.

‘n Talentvolle boeremusiekgroep van Krugersdorp wat al vir meer as 30 jaar aan die gang is, is tans besig om ‘n nuwe album op te neem.

Die Teelepeltjies is ‘n groep jong manne wat boeremusiek maak al sedert 1989. Leier van die groep Christiaan Ras speel die klawerborde en treklavier en het vertel dat jare terug het sy pa vir hom en sy broer Hendrik geleer hoe om boeremusiek te speel.

“Ek het op die ouderdom van vyf begin kitaar speel en my broer was drie jaar oud, hy was die dromspeler met twee teelepels en ‘n verfblik, my pa Chris het ons albei begelei met ‘n mondfluitjie en kitaar.”

In 1998 na ‘n paar jaar se optredes tree Chris uit en Shane Bramley sluit by die Teelepeltjies aan.

Die jong Teelepeltjies het voor slaghuise en groentewinkels begin optree en ek dink baie mense aan die Wesrand kan dit nog onthou, ons kon vir ure die publiek vermaak het met ons boeremusiek oor naweke.”

Christiaan het vertel dat sy broer vir die eerste keer in 2002 met dromstokke begin speel en sy eerste dromstel gekry.

“Die Orkes het talentvolle lede bygekry en tussendeur sewe albums opgeneem en ons is tans besig met ‘n nuwe album wat vroeg volgende jaar die lig sal sien en wat soos al die vorige albums die voete gaan laat jeuk met ons unieke Klipwerf styl.”

Die Teelepeltjies is al vir ‘n paar nominasies genomineer en in 2021 het hulle die South African Traditional Music Awards (SATMA)-toekenning vir die Beste Boeremusiek groep van die jaar gewen.

“Ons wil graag van die geleenheid gebruik maak om vir almal wat ons in die 32-jaar al ondersteun, dankie te sê.”

Om die Teelepeltjies te bespreek vir enige funksies kontak Lelanie op 076 728 4754 of stuur ‘n epos na lelaniedenton@gmail.com.

Shane Bramley, Hendrik Ras, Christiaan Ras, Shaun Grobler en Jason Joubert. Foto ingestuur.
Exit mobile version