Lifestyle

Meer as ‘n halfeeu se liefde vir Lou en Daleen

'Ons het 'n jaar uitgegaan toe vra ek haar om te trou'

Die liefde blom steeds vir dié twee Randfontein-inwoners wat meer as ‘n halfeeu getroud is.

Lou, 76 en Daleen Brits, 76 is al vir 53 jaar getroud en is steeds dolverlief. Hulle het op 26 April 1969 trou aan mekaar beloof.

“Ons het so ‘n jaar uitgegaan toe doen ek aansoek vir ‘n werk in Windhoek. Ek was nie baie lus om alleen te gaan nie, en omdat ek reeds geweet het ek gaan die een of ander tyd vir Daleen vra om te trou, toe dink ek nou is die tyd.”

Sy het vertel dat hul wittebrood by Lekkerrus was en hulle het toe deur die destydse Oos-Transvaal getoer. “Daardie jare was heerlik,” het sy vertel.

Hulle was baie lief vir stap en het dikwels die Fanie Botha Wandelpad en allerhande driedag-staproetes aangepak.

“Ons hou daarvan om dinge saam te doen – ons lees, stap en doen alles saam want ons is eintlik geesgenote,” het hy vertel.

Hulle is geseën met twee kinders en vyf kleinkinders wat in Greenhills woon.

“Ons is baie geheg aan ons familie en praat elke dag met die kinders. Sondae na kerk drink hulle eers tee hier by ons en dan kuier ons,” het Daleen gesê.

Daleen het vertel dat sy baie hou van haar man se vasberadenheid en deursettingsvermoë. “Op sy ouderdom skrik hy nog steeds nie vir werk nie, dit kan maar wees wat dit wil maar as dit in sy rigting kom en hy voel hy kan dit baasraak dan doen hy dit. En sy humoursin … eintlik was hy spesiaal van die begin af.”

Hy het vertel dat sy vrou ‘n mense-mens is en dat almal lief is vir haar. Daar is altyd kommunikasie van haar kant af en wedersydse respek. “Daar sit ‘n meisie met guts; al agt rugoperasies gehad en was vir 18 maande in ‘n rolstoel, maar sy het gesê ‘ek sal opstaan’ en sy het opgestaan, en bestuur alweer haar eie kar.

“Wanneer dit kom by ‘n huwelik is dit glad nie te sê daar gaan nie goed gebeur in ‘n ou se lewe waarvoor ek vir hom ongelukkig is of hy vir my is nie, maar ons probeer. Kommunikasie is belangrik, al sê jy dit nie dadelik wanneer jy kwaad is nie, maar jy sê vir hom op die regte tyd wat fout is. Daar is geen huwelik wat nie argumente het nie maar jy moet dit uitklaar, julle moet dit saam oplos en nie kwaad bly nie. Mense moet meer verdraagsaam wees,” het Daleen gesê.

Lou en Daleen Brits is al vir 53 jaar gelukkig getroud.
Lou en Daleen Brits op hulle troudag 53 jaar gelede.

Related Articles

Back to top button