Talentvolle stemme weergalm by plaaslike kroeg

Daar het 'n lekker gees geheers tydens die eindrondte van Quarter Mile Sports Pub se sangkompetisie genaamd Begin Sing. Cornelia Joubert met die groot prys weggestap.

Talle talentvolle stemme het onlangs by Quarter Mile Sports Pub bymekaar gekom vir die eindrondte van hul sangkompetisie genaamd Begin Sing.

Ses sangers het hul harte op Woensdagaand, 3 Augustus uitgesing om te bepaal wie die algehele wenner sou wees.

Tania Pretorius sing haar liedjie. Foto: Michelle Roodt.

Eienaar van Quarter Mile Sports Pub asook een van die organiseerders Johan Grobler het gesê dat hulle met 17 inskrywings begin het voordat die ses sangers die finaal bereik het.

Daar het ‘n lekker gees geheers en die sangers het talle ondersteuners in die gehoor gehad wat die aand kom geniet het. Mede-organiseerder DJ Neville het seker gemaak dat daar altyd ‘n liedjie was wat by die deelnemers se stemme sou pas, en hy het ook gesorg vir genoeg ysbrekers.

Cornelia Joubert is as die wenner aangewys. Foto: Michelle Roodt.

Cornelia Joubert is as die wenner aangewys en het met R5 000 weggestap. In die tweede plek was Hanlie Gordon wat R1 000 gewen het, en Magaret Mpshe wat ‘n R500-geskenkbewys ontvang het, was in die derde plek.

Dit was ‘n ongelooflik lekker journey; ons het almal vriende geword en nou is ons soos ‘n familie. Indien iemand kunstenaar vir ‘n funksie benodig, kan hulle ons gerus kontak vir verwysings en kontaknommers,” het Johan gesê.

Hy het vertel dat hulle besluit het om die sangkompetisie op ‘n Woensdag aan te bied om die gemeenskap se talent blootstelling te gee nadat daar verskeie versoeke was vir iets soos ‘n open mic karaoke.

Margaret Mpshe het derde geëindig in die kompetisie. Foto: Michelle Roodt.

“Die deelnemers is kunstenaars wat nog nooit kontrakte gehad het nie en hulle het ‘n kans gekry om te wys waartoe hulle in staat is. Mense in Randfontein het ongelooflik baie talent wat net verlore gaan,” het Johan verduidelik.

Volgens hom gaan hulle beslis weer so iets aanbied en werk reeds aan hul volgende event.

Janien Koole was een van die finaliste. Foto: Michelle Roodt.
Jeanette Mckenzie bekoor die gehoor. Foto: Michelle Roodt.
DJ Neville bedank vir Johan Grobler vir al sy harde werk vir die kompetisie. Foto: Michelle Roodt.
Exit mobile version