Randfontein se veldrenkoningin

Martie neem al die afgelope vier jaar aan wedrenne op vier wiele deel, maar nie soos jy dink nie.

Martie Bachfischer is al die afgelope vier jaar ‘n professionele kwadfietsryer.

Sy het vertel dat haar verloofde, Gideon in 2009 ‘n Banshee-kwadfiets gekoop het, en nie lank daarna nie het sy vir haarself ‘n Blaster 200-kwadfiets gekoop. “Ons het die kwads oorspronklik net gebruik om naweke ‘n bietjie rond te speel en pret te hê,” het sy vertel.

In 2010 het Gideon begin om aan Oval-wedrenne en uithou-veldwedrenne deel te neem, en ek was altyd saam om hom te ondersteun, want toe het die gogga om self te ry my nog nie gebyt nie.”

Dié gogga het haar toe drie jaar later begin byt. “Ons het vir my ‘n groter vierwiel gekry en het omtrent elke naweek saam met vriende Magalies toe gery.” 

Sy het vertel dat sy een naweek in Oktober in ‘n fratsongeluk betrokke was op pad na die riviertjie duskant Magalies. “Ek het geval en my linkersleutelbeen, regterarm en regtergewrig gebreek, en dit was ook my eerste ontmoeting met die nooddienste se ambulans.” 

Dit het haar ‘n ruk geneem om van haar beserings te herstel, en sy kon eers later in 2014 weer kwadfiets ry. “Ek het in 2014 en 2015 aan wedrenne deelgeneem by Africa-Offroad Racing wat geaffilieer is by WOMZA – World of Motorsport South Africa, en by Wildcat Racing, wat tans NW Offroad is. 

“Aan die einde van 2016 het ek besluit ek wil meer kompeterend wees, en in 2017 by die GXCC (Gauteng Cross Country Club) aangesluit, wat geaffilieer is by MSA – Motorsport South Africa. In die GXCC is daar gemiddeld tussen 250 en 500 inskrywings per wedren waaraan vier- en tweewielfietse deelneem.

Die kompetisie tussen die vroue was verskriklik sterk en ons moes regtig jaag om voor te kon ry. Maar in die middel van 2017 het ek my tweede ongeluk tydens een van die wedrenne gehad en my regterknie baie erg beseer.

“Vir amper ses maande het ek ‘n stut om my knie en been gedra om van die besering te herstel, en was toe nie daardie jaar kompeterend tydens die kampioenskap nie,” het sy vertel.

In 2018 was die mededinging weereens uiters sterk tussen die dames by GXCC en sy kon toe uiteindelik die klubkampioenskap vir die vrouekwads inpalm. “Dit was maak of breek in die laaste wedren van daardie jaar vir die titel want die dames se punte was baie naby aan mekaar.” 

In 2019 het Martie gaan deelneem aan die Toyota Botswana 1000 wat oor drie dae gestrek het,. Die Vrydag is die 50km-tydtoetse gedoen en die Saterdag en Sondag is daar elke dag 500km afgelê. “Ek het saam met die mans in die ope kwadklas deelgeneem omdat ek die enigste vrou was wat vir die kwads ingeskryf het.” Sy het die Botswana 1000 suksesvol te voltooi en ‘n algehele tweede plek tussen die mans behaal. Sy het vertel dat haar grootste droom in 2019 waar geword het toe sy aan dié wedren deelgeneem het.

Sy gaan in 2020 weer aan die Africa Offroad Racing- en GXCC-wedrenne deelneem. Die Covid-19 pandemie het alles vertraag en by hulle almal baie onsekerheid veroorsaak omdat hulle nie seker was of die jaar se wedrenne sou kon voortgaan nie.

Ons kon gelukkig einde Augustus weer begin ry en ek is tans algeheel tweede in die kwadafdeling – vir mans én vroue – in die GXCC Klub, en voor op punte in die dameskwadklas.”

Martie het vertel dat daar nog twee GXCC-wedrenne vir vanjaar geskeduleer is, en as alles goed gaan kan sy haar posisies so behou en as 2020 se vrouekwadkampioen gekroon word.

Sy het vertel dat sy deur die jare verskeie groottes 450cc- en 700cc-kwadfietse van verskillende vervaardigers gehad het, naamlik Honda, Suzuki, Yamaha, KTM en YFZ. Sy neem op die oomblik met ‘n Yamaha YFZ 450 aan die GXCC’s deel, en gebruik ‘n Yamaha Raptor 700cc om aan die Africa Offroad Racing-wedrenne deel te neem. “Ons het dié jaar begin om met motors aan veldwedrenne deel te neem, dus vloei die adrenalien behoorlik hierdie jaar.”

Volgens Martie is enige sport gevaarlik. “Uithouwedrenne is gevaarliker, baie uitdagend, eis sy tol op ‘n mens se lyf, en verg ontsettend baie konsentrasie. Ek sê altyd, ‘Don’t ride faster than your Guardian Angel can fly’ wat beteken dat jy nooit iets bo jou vermoë moet aanpak nie. Begin binne jou perke en werk jouself op tot bo want alles neem tyd en gebeur nie oornag nie.”

Ondersteuning is in elke sport baie belangrik en sonder my mentor Gideon Jacobs, familie, vriende en natuurlik my borge, Four21 Racing Developments, CST Tyres en Dragon Energy Drinks sou niks moontlik gewees het nie.”

Haar motto in die lewe is ‘Winners are not those who never fail, but those who never quit! If you feel like quitting, think about why you started.’

Exit mobile version