Ek voel vir die Bokke

Ek hoop sowaar Saru doen gou iets om die Springbok-trots terug te bring want ons ondersteuners se harte bloei.

Rugby lê my net so na aan die hart soos ‘n medium steak met sampioensous, maar as mens sien hoe dit deesdae met die Bokke gaan, raak ek sommer my eetlus kwyt.

Kom ons wees maar eerlik en sê dat Springbok-rugby nie op ‘n goeie plek is nie.

Vanjaar het ons net vier oorwinnings (twee teen Ierland, en een elk teen Argentinië en Australië) en een gelykoptelling (31–elk teen die Barbarians) uit 12 kragmetings behaal. Tog was dié seges ook nie oortuigend nie.

As jy spesifiek kyk na die tweede toets teen Ierland was ons rustyd 19–3 agter, en met 18 minute oor was ons 26–10 agter. Dit nogal op die ‘heilige grond’ van Ellis Park – ‘n stadion wat gewoonlik vrees by enige opponent inboesem. Deur ‘n wonderwerk het ons die wedstryd uiteindelik 32–26 gewen.

Argentinië (26–24), Australië (23–17), die All Blacks (41–13 en 57–15), Ierland (26–20), Engeland (37–21) en die span wat die meeste geskok het, Italië (20-18) het die Bokke deeglike loesings gegee.

Sal iemand asseblief keer dat die Springbokke oor die afgrond tuimel?

Exit mobile version