Wat van ‘n vrou as president?

Nie dat ek iets teen ons manne het nie, maar wat van 'n bietjie kalmte en omgee in die presidensie?

Ek gaan nou ‘n klip in die bos gooi: wat van ‘n vrou as die volgende president van Suid-Afrika?

Vroue wat op die oomblik in die nuus is, sluit in Hillary Clinton wat moontlik die VSA se eerste vrouepresident kan word en Duitsland se kanselier Angela Merkel wat volgens berigte ‘n groot rol gespeel het om die finansiële krisis in die Europese Unie te help oplos. Sy is ook die leier van die Christen Demokratiese Unie. Merkel is boonop tweede op die saketydskrif Forbes se lys van die 100 magtigste persone ter wêreld.

Watter skade kan dit enigsins doen as ‘n vrou ‘n bietjie die leisels by President Zuma oorneem?

Miskien sal daar met meer erns aandag gegee word aan kwessies soos werkloosheid, misdaad – veral met al die geweld teen vroue en kinders – en dalk die doodstraf terugbring; die ekonomie en vriendskapsbande met meer lande.

Nie dat ek iets teen ons manne het nie, maar wat van ‘n bietjie kalmte en omgee in die presidensie – dit kan mos net ‘n goeie ding wees?

Wat dink jy hiervan? Sal ‘n vrouepresident ‘n goeie of slegte idee wees, en hoekom sê jy so? Wie sou jy graag as vrouepresident wil hê?

Exit mobile version