Die wêreld is wreed

Mens is ook nêrens veilig nie.

Ek wil nie graag die week negatief begin nie maar na die afgelope naweek se gebeure kan jy dit nie ignoreer nie.

Verlede week het ek gekerm oor sport in Suid-Afrika so ek gaan maar daar begin. Wat ‘n donker naweek was dit nie. Die Proteas, Baba-bokke, Springbokke en SA A-span was almal aan die verloorkant.

Die grootste skok was seker die Springbokke wat vir byna ‘n uur lank teen ‘n Ierse span met net 14 spelers gespeel het en nogtans verloor het. In een stadium was ons 15 spelers teen 13.

Op ‘n ernstige noot – ek was geskok om te lees dat ‘n baba sy lykie met brandwonde en ‘n gebreekte skedel in sy bedjie gekry is. Polisie is op soek na die pa.

Daar is ook twee skietvoorvalle wat my bygebly het. Die een was in Randfontein, en ander in die VSA.

Vrydagaand is ‘n plaaslike inkopiesentrum glo deur 20 gewapende rowers geteiken. Dit terwyl die plek oop was. Wat die situasie vererger is dat kinders aan so ‘n misdaad blootgestel is. Volgens die polisie is een rower op die toneel doodgeskiet en ‘n ander een het op pad hospitaal toe beswyk na ‘n skietery met die polisie. Drie ander rowers is intussen aangekeer. Niemand anders is tydens die gewapende rooftog ernstig beseer nie.

Nagenoeg 100 mense in Orlando, Florida in die VSA was nie so gelukkig nie. In die vroeë oggendure van Sondag 12 Junie is 49 mense dood en meer as 50 beseer toe ‘n man met ‘n aanvalsgeweer by ‘n gay-nagklub op mense begin skiet het. Volgens nuusagentskap Al Jazeera het die man, wat 29-jaar oud is, self erken dat hy aan ‘n terreurgroep behoort het. Hy was voor die insident op die FBI se lys van moontlike terroriste maar daar was glo nie genoeg bewyse teen hom nie en hy is gevolglik nooit gearresteer nie. Die groot skok is dat hy ‘n gebore Amerikaner is.

Die wêreld is wreed en dit voel werklik of mens nêrens veilig is nie.

Related Articles

Back to top button