EntertainmentLifestyle

Moed, dapperheid en kameraadskap in die hart van die nuwe Suid-Afrikaanse film

In 1901, terwyl die Anglo-Boeroorlog in Suid-Afrika woed, word Boere-kryger Willem Morkel (Stian Bam) se vrou en enigste kind deur Britse soldate vermoor.

Willem word gevange geneem en verban na die eiland van St. Helena waar ander Boere ook as krygsgevangenes aangehou word.

Daar is geen genade vir hulle nie en onder verskriklike omstandighede word elke dag ’n stryd om oorlewing. Dit wakker egter kameraadskap onder die mans aan, en hul word soos familie.

Kolonel Swannell (Grant Swanby) is in beheer van die konsentrasiekamp en het ’n vurige haat vir die Afrikaner, en hy maak hul bestaan so moeilik as moontlik. Dan aanvaar Willem ’n aanbod wat sal lei tot die belangrikste stryd van die Boere se lewens.

Modder-en-Bloed_001_NEW

“Willem is ’n groot rol. Ikonies in aard. So is Modder en Bloed ook epies in skaal en omvang – dít was duidelik met die eerste deurlees van die teks. Min kry jy die geleentheid om so ’n rol te kan speel en deel te kan wees van so ’n film. So daar was geen twyfel toe Sean my vra om Willem te speel nie. Ook wou ek baie graag met Sean werk en ek is baie dankbaar ek het die geleentheid gekry. Ek het ongelooflike respek vir hom. Sy werksetiek is ongeëwenaard; hy is by uitstek ’n ‘akteurs-regisseur’ en die manier hoe hy met mense om hom werk is ongelooflik.”

Modder en Bloed se indrukwekkende ensemble-rolverdeling sluit Suid-Afrikaanse en Britse spelers in. Verskeie plaaslike akteurs soos Deon Lotz, Edwin van der Walt, Albert Maritz, Altus Theart, Jacques Bessenger, Bok van Blerk, Michael Richard en David Louw verskyn in die fliek, terwyl die Britse rolverdeling Charlotte Salt, Patrick Connolly, Nick Cornwall en Josh Myers insluit.

“Dit was ’n groot voorreg om saam met die internasionale akteurs te werk. Charlotte is onselfsugtig en die mees vrygewigste aktrise. Aanvanklik was ek baie op my senuwees om teenoor haar te speel, maar sy is so gemaklik dat een van my gunsteling-tonele van die film saam met haar is. En dan Patrick. Wat ’n ongelooflike mens en akteur. Ek sou nie Willem sonder Patrick kon skep en deurvoer nie. Hy was maar my vangnet.” – Stian Bam

“Katherine Sterndale is losweg gebaseer op die historiese figuur, Emily Hobhouse, so dit was regtig interessant om daarin te kon delf. Dit was wonderlik om die rol van so ’n sterk vrou te vertolk en om ’n voorstander van vrouestemregte te kon uitbeeld; iemand wat baie menslikheid het en die wreedheid om haar raakgesien het en iets daaroor wou doen. As ’n vrou in daardie tyd, was dit nie altyd die maklikste ding nie. So dit was opwindend om so ’n sterk karakter te vertolk wat nie net die liefdesbelangstelling is nie, die meisie aan die ou se arm nie. Dit is nie ’n liefdesverhaal nie, dit is ’n verhaal van dapperheid, om jou stem te vind en om uit te vind waarin jy glo.” – Charlotte Salt

Sean Else, skrywer, regisseur en vervaardiger, sê die maak van die fliek was ’n grootse ondervinding wat ’n ongelooflike span mense van regoor die wereld, voor en agter die kamera, met elke uitdaging net nader aan mekaar en aan die projek gebring het.

Modder en Bloed is vervaardig deur Dark Matter Studios (Llewelynn Greeff en Henk Pretorius – Leading Lady) en Collective Dream Films (Sean Else – Platteland). 

Die fliek word in samewerking met kykNET Films en die Departement van Handel en Nywerheid uitgereik.

*Die film word op 1 April 2016 landswyd deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.

Lusmaker-lokprent: 

Related Articles

Back to top button