Nog ‘n jaginsident ontstel diereliefhebbers

Die vraag is nou waar trek mens die streep, en of jag eties is.

Nog ‘n Amerikaner is kwaai gekritiseer omdat sy gejag het.

Dit nadat foto’s in verskeie dagblaaie verskyn het van ‘n vrou wat trots by die karkas van onderskeidelik ‘n kameelperd, blouwildebees, koedoe en rooibok staan.

Die vrou het glo almal doodgeskiet tydens ‘n jagtog in Suid-Afrika. By elke foto staan daar ook hoeveel sy vir elkeen van die diere betaal het – R33 000 vir die kameelperd, R12 000 vir die blouwildebees, R20 300 vir die koedoe en net oor die R4 000 vir die rooibok.

Dit kom maar ‘n week nadat talle diereliefhebbers ontsteld was oor die nuus dat ‘n Amerikaanse tandarts een van Zimbabwe se bekendste leeus, Cecil, met ‘n pyl en boog doodgeskiet het. Dit het glo $50 000 gekos om die leeu vir ‘n trofeë dood te maak.

Nadat die vrou op sosiale media die kop gewas is, het sy haar optrede verdedig deur verse uit Genesis aan te haal.

Die vraag is nou waar trek mens die streep, en of jag eties is.

Sosiale netwerke weerspieël gemengde gevoelens.

Sommiges glo dis verkeerd om ‘n leeu as ‘n trofeë te jag terwyl hulle geen fout daarmee vind om ander diere soos koedoes te jag nie. Hoe anders kom wildsvleis op jou bord en daardie lekker biltong vir die rugby in die slaghuis?

Ander voel om te jag vir die pret daarvan moet heeltemal verbied word.

Hoe moet die mens oorleef? Ons moet of mag sekerlik diere doodmaak vir kos.

Hoe voel jy oor jag? Sê jou sê.

Exit mobile version