Mense kry bitter swaar

Daar is mense daar buite vir wie die lewe een groot stryd is.

Mense kry bitter swaar

Daar is mense daar buite vir wie die lewe een groot stryd is.

Kyk maar na die bedelaars om elke hoek en draai van die dorp. Wat daartoe gelei het dat dié mense daar staan sal niemand weet nie maar dit is regtig iets wat die hart ruk.

Elkeen het sy opinie daaroor maar vir my is dit veral hartverskeurend as ‘n vrou met ‘n bordjie staan en bedel.

Die ander dag sien ek juis ‘n bejaarde vrou tussen karre deur loop. Sy dra elke dag dieselfde klere, sukkel om te loop, lyk ongewas en haar kunstande wil kort-kort uitval. Mens kan sien dit gaan swaar.

Op haar bordjie vra sy vir hulp, nie geld nie. Die woord ‘asb’ word minstens drie keer genoem. Die een spesifieke dag toe sy verby die eerste kar in die ry stap, het sy omgedraai en stadig teruggestap sypaadjie toe. Daar was ‘n traan op haar wang toe sy gaan sit en diep gesug het.

Dit het gelyk of sy op moedverloor se vlakte was. Haar gesigsuitdrukking het gewys sy hoop nie meer nie.

Ek dink dit verg baie om so ver te gaan om in die straat te staan en bedel vir aalmoese. Ja, daar is sekeres wat die geld wat hulle by barmhartige Samaritane kry vir die verkeerde doel gebruik, maar daar is wel dié vir wie dit om den brode gaan.

Dan is daar boonop die ‘stille armoede’. Baie van dié wat swaar kry is skaam om daaroor te praat en ly in stilte.

Aangesien Mandela-dag (Saterdag 18 Julie) om die draai is, dink ek dit is die perfekte geleentheid om iets te probeer doen vir dié wat werklik onder armoede gebuk gaan. As elkeen van ons iets positief doen om net een persoon se nood te help verlig, sal baie mense weer kan moed skep.

Mandela-dag gaan juis daaroor om 67 minute af te staan vir dié in nood. Laat weet ons by die Herald by 011 693 3671 of epos randfonteinherald@caxton.co.za van die plan wat jy in die mou voer om mense in nood te help. Ons hoor graag van jou.

Exit mobile version