Goed raak te duur

Waar kom alles vandaan?

Ek koop nou die dag ‘n paar items by die winkel en het amper op my rug geval.

R650 vir drie sakke inkopies. Kan jy dit glo?

Ja, daardie bedrag was net vir ‘n houer yoghurt, boerewors, ‘n halfdosyn rolletjies, mozzarella-kaas, gouda-kaas, drie pakke spek, pannekoekmengsel, drie pakkies springmielies,  18 eiers, drie boksies langlewe melk, swartsakke, twee blikke sproei, ‘n bottel blatjang, ‘n bottel koejawelsap asook vier pakkies sigarette.

Nou het ‘n ou nog nie eers daaraan gedink om kruideniersware vir die res van die maand te koop nie en dis nogal voordat die petrolprys met meer as 40 sent per liter gestyg het.

Dan wil Eskom ook nog die kragprys met ‘n verdere 25 persent verhoog.

Die kragrekening skiet reeds elke maand die hoogte in – dit as ‘n ou net ‘n klein verwarmertjie aanskakel om te keer dat jy verkluim.

Intussen bel al wat ‘n versekeringsagent jou om te hoor of jy nie ‘n polis by hulle wil koop nie, maar wanneer jy hulle nodig het, betaal hulle skaars uit.

Waar kom alles vandaan?

Exit mobile version