Padvarke moet in die bek geruk word

Dis tyd dat daar steng opgetree word.

Ek ry nou die dag op die R28 in die rigting van Krugersdorp en daar draai ‘n groot trok voor ten minste 10 ander voertuie in om Randfontein se kant toe te kan ry.

Dit was net ‘n geskreeu van remme, ‘n geswets en noodligte waar jy kyk. Gelukkig het niks erger gebeur nie, maar sê nou net …?

Tientalle mense kon gesterf het.

Daar moet stappe teen sulke bestuurders geneem word. Hulle rybewyse behoort opgeskort te word.

Die indruk wat ek van die trokdrywer kry is dat hy geglo het hy kon doen wat hy wou en niemand kon hom keer nie.

Dis alles goed en wel dat padblokkades op ongerieflike tye gehou word om voertuigbestuurders vas te trek, maar ek dink die verkeerde bestuurders ry dikwels aan die pen. Spitstye is daar gewoonlik nie een verkeersbeampte in sig nie.

‘n Ander voorbeeld is taxi’s. Ons verstaan dat hulle passasiers vervoer wat by die werk of huis wil kom, maar is dit nodig om ‘n rooi verkeerslig te ignoreer en op die onmoontlikste plekke sonder waarskuwing morsdood voor ander voertuie te stop om hulle af te laai? Ons ander wil ook by die werk kom, verkieslik ongeskonde. Wat gee hulle die reg om so te bestuur?

Ek stop maar by ‘n stopteken, hou sover moontlik by die spoedgrens en gee ander wat in die vinnige baan wil ry ‘n kans om verby te kom. Hoe moeilik kan dit nou wees?

Te veel mense sterf daagliks op ons paaie weens foute wat onbedagsame mense begaan. Dis tyd dat daar steng opgetree word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button