Proteas, kies ouens op vorm, nie reputasie nie

Dis alles goed en wel ons verniel Wes-Indië 4-1 in ‘n eendagreeks in Suid-Afrika maar dan kom die Wêreldbeker en ons stel teleur. Om een kragmeting in die Wêreldbeker te verloor is gewoonlik nie rede vir paniek en tou opgooi nie maar dit is hoe ons teen Indië verloor het wat mense pla. Die Proteas …

Dis alles goed en wel ons verniel Wes-Indië 4-1 in ‘n eendagreeks in Suid-Afrika maar dan kom die Wêreldbeker en ons stel teleur.

Om een kragmeting in die Wêreldbeker te verloor is gewoonlik nie rede vir paniek en tou opgooi nie maar dit is hoe ons teen Indië verloor het wat mense pla. Die Proteas was nêrens in die prentjie nie – nie metveldwerk, die kolf of die bal nie.

Hoekom kies die keurders in die eerste plek spelers soos Parnell en De Kock? Een van hulle se spelpeil is nie te waffers nie en die ander een het onlangs eers teruggekeer na ‘n besering. Dean Elgar en David Wiese souverreweg beter keuses gewees het. Wiese kan lekker lopies aanteken en paaltjies vat, en in die onlangse Momentum Eendagreeks het Elgar beslis sy stempel as openingskolwer afgedruk.

Rilee Rossouw se spelpeil is ook goed, maar hy is gekies as 12de man. Nou wat help dit?

Ag nee man keurders, luister net ‘n bietjie na die publiek. Roep wie ook al nader of kies iemand anders – enigiets sodat ons net die beker huis toe kan bring.

Ons weet klaar wat die verskoning is. “Gee die ouens net tyd, ons glo in hulle.” Jammer vir die ontnugteringkeurders maar ongelukkig is daar nie tyd daarvoor nie.

Daar is net ses wedstryde in die groep en plek vir net die top vier in die uitspeelrondte. Ons het reeds twee gespeel waartydens ons ietwat gesukkel het om met Zimbabwe af te reken en die knie behoorlik voor Indië voor ‘n partydige skare van 90 000 gebuig. Nou is daar net vier kragmetings oor en moenie vir een oomblik dink Gayle se West Indiërs, Boom Boom se Pakistan, die buiteperd Ierland en nuwelinge VAE gaan vir ons terugstaan nie. Word daar nie nou iets gedoen nie kan minstens drie van die genoemde spanne ons pakslae gee en uitboender. Dan moet ons weer vier jaar wag.

Ek sê nie die Proteas is swak nie, maar sekere dinge werk net nie. Ons as trotse ondersteuners wil daardieProtea Fire waaroor almal praat op die veld en telbord sien, nie in ‘n advertensie op SuperSport nie.

Die oplossing – kies ouens op vorm. Niks meer nie en niks minder nie.

Wêreldbekers word nie gewen deur ‘n groep wat dink hulle gaan wen nie – eerder deur ‘n groep wat wil wen. As dit beteken Du Plessis, Duminy en De Kock moet die trekpas kry, dan is dit maar so.

Kom nou Proteas, maak ons trots.

Related Articles

Back to top button