Valentynsdag: Dis Super Rugby óf die geliefde

Ek dink ek praat namens alle mans dat Saterdag 14 Februarie ‘n bietjie van ‘n dilemma is. Daardie dag is Dag 2 van Super Rugby 2015. Dis ook Valentynsdag. Hoe nou gemaak? Dames, ek wil julle nie verkeerd opvryf nie – ek weet gelukkig van beter – maar ons manne het die afgelope paar maande …

Ek dink ek praat namens alle mans dat Saterdag 14 Februarie ‘n bietjie van ‘n dilemma is.

Daardie dag is Dag 2 van Super Rugby 2015. Dis ook Valentynsdag. Hoe nou gemaak?

Dames, ek wil julle nie verkeerd opvryf nie – ek weet gelukkig van beter – maar ons manne het die afgelope paar maande nie geweet wat om op Saterdae met onsself te doen nie. Oor ‘n paar dae is die lang wag uiteindelik verby.

Daardie einste Saterdag (Valentynsdag) begin die aksie al vroeg met die wedstryd om 8.30vm tussen die Blues en Chiefs …en ja, dis nodig om daarna te kyk al is dit twee Nieu-Seelandse spanne want ons Suid-Afrikaners moet weet hoe goed ons opponente is en ook vir Superbru-redes.

Later die dag, om 5nm, pak die Cheetahs die Sharkies in die Haaitenk en daarna is dit die grote tussen aartsvyande die Bulls en Stormers om 7nm op heilige grond, naamlik Loftus Versveld.

So kom ons kyk na die scenario:
1. Ons kan julle (ons vroue, meisies of skelmpies) tussen 10vm en 4nm op die laatste op Valentynsdag trakteer – ek dink dit is nogal redelik.
2. Dit moet net nerens te vêr wees nie want ons moet betyds wees vir die Sharks-kragmeting. As ons teen 3nm klaar kan wees met ons Valentynsvieringe sal ons dit waardeer want onthou ons moet allerhande verversings soos biltong en iets koud vir die keel voor die tyd koop. Moet ook nie van die braaigoed vergeet nie.
3. Al is dit Valentynsdag sal ons mans dit ook waardeer as julle voor die middagwedstryd alle uitstaande vrae sal vra want van skuins voor 5nm af is dit ernstige rugbytyd.

Ons lief julle baie.
Mans.

Exit mobile version