Randfontein Pluimbalklub bied opedag aan

Die pluimbalspelers van Randfontein Pluimbalklub spog met 'n suksesvolle pluimbal opedag.

Randgate — Die Randfontein Pluimbalklub het onglangs ‘n opedag aangebied en klubs van regoor Suid-Afrika genooi om die dag saam met hulle te kom geniet.

Volgens die nuutgekose voorsitter van die klub, Corinne Meyer, het die geleentheid op 10 Junie by die Randgate gemeenskapsaal plaasgevind.

“Die doel van die dag was bloot om pret te hê en mekaar se geselskap te geniet,” vertel Meyer.

Sy vertel verder dat klubs soos Klerksdorp, Westonaria, Orkney en Randfontein die dag bygewoon het.

“Met vier klubs teenwoordig, het sowat 35 spelers in ‘n rondomtalieformaat teen mekaar gespeel,” vertel Meyer.

Sy verduidelik verder dat ‘n rondomtalieformaat beteken dat elke paar die kans kry om teen al die ander spelers teenwoordig te speel.

Die vorige voorsitter van die klub, Elsie Höll, het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die voorsitterskap amptelik aan Meyer te oorhandig.

“Na afloop van die wedstryde het daar ook ‘n klein prysuitdeling plaasgevind,” vertel Meyer.

“Die dag was ‘n reuse sukses en as voorsitter van Randfontein Pluimbalklub bedank ek elke klub wat saam met ons die dag kom geniet het,” vertel Meyer.

Exit mobile version